Twee van die mans wat beskuldig word van die moord in Tokai op die tiener Franziska Blöchliger onderhandel tans met die staat vir moontlike pleitooreenkomste, het hul prokureurs Vrydag gesê.

Howard Oliver en Jerome Moses is besig om hul pleitooreenkomste te finaliseer, het die Wynberg-landdroshof gehoor.

Dis onwaarskynlik dat die ander twee beskuldigdes, Jonathan Jonas en Daniel Easter, pleitooreenkomste sal aanvaar, maar hulle is bereid om na die staat se voorstel te luister.

Lees ook: Tokai-vier stel nuwe eise kort voor tweede hofverskyning

Die vier mans was in die hof op aanklagte van moord, verkragting en roof.

Die aanklaer, Renee Prinsloo-Uys, het gesê die polisie-ondersoek is afgehandel, maar het gevra dat die saak vir ’n maand uitgestel word om die ooreenkomste met die beskuldigdes te finaliseer.

Howard en Jonathan sal agter tralies bly. Daniel en Jerome se borgtog is verleng.

Daar is in ’n nadoodse ondersoek bevind Franziska (16) is verwurg en versmoor en het traumawonde opgedoen toe sy op 7 Maart vanjaar in die Tokai-woud in Kaapstad aangeval is. Daar is sand in haar keel gevind en sy is vaginaal en anaal verkrag.