Die aanklagte teen Emlyn Culverwell en sy swanger verloofde, Iryna Nohai – wat insluit dat hulle die land se moraliteitswette geskend het – is laat vaar, berig Times Live.

Die paartjie het glo ook reeds borgtog betaal.

Die webblad het Emlyn se ma, Linda Culverwell, aangehaal: “Ek het sy naam geskree; ek was besig met ’n bloeddruktoets toe ek die oproep kry. Ek het gedink hy bel uit die tronk. Hy’t gesê ek moet kalmeer en dat hulle uit op borgtog is. En hulle het vandag gebel om te sê al die aanklagte teen hulle is laat vaar. Ek het nie geweet of ek wil skree of huil nie.”

Emlyn (29), ’n Suid-Afrikaner, en sy meisie, Iryna Nohai (27) wat oorspronklik van die Oekraïne is, is op 29 Januarie in Aboe Dhabi in hegtenis geneem.

Iryna was by die dokter nadat sy maagkrampe gekry het. Die dokter het bevind dat sy swanger is en die paartjie is later in hegtenis geneem – seks voor die huwelik is onwettig in die Verenigde Arabiese Emirate.

TimesLive berig Iryna het haar ingevolge Sharia-wette skuldig gemaak aan “zina”‚ ’n Islamitiese term vir buite-egtelike seks.

Die webblad berig ook die paartjie het in Aboe Dhabi ontmoet en begin uitgaan.

Volgens News24, wat met Linda gepraat het, het die twee onlangs verloof geraak.

Volgens die artikel het die Oekraïense ambassade betrokke geraak en het hulle toestemming probeer kry dat die paartjie kan trou of gedeporteer word.

[caption id="attachment_163013" align="alignnone" width="603"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Linda het aan News24 gesê: “Ons probeer boodskappe na hulle stuur om te sê ons is lief vir hulle en dat hulle hul nie moet bekommer nie . . . ek’s veral gepla oor die feit dat ons nie weet hoe dit met hulle gaan nie. Al wat die departement van internasionale betrekkeninge bereid is om te sê, is dat ons ‘geduldig moet wees’ maar daar is drie lewens hier op die spel.”

Nelson Kgwete, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge, het intussen in ’n e-pos aan Huisgenoot gesê die Suid-Afrikaanse ambassade in Aboe Dhabi is nie in ’n posisie om by die regsproses daar in te meng nie.