Die polisie in Port Elizabeth ondersoek tans gerugte nadat 'n stemopname op sosiale media versprei word waar 'n onbekende man beweer hy het twee mans in die Sardinia-reservaat gesien wat 5-liter kanne met petrol ronddra.

Hy het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om hom te help om die twee mans op te spoor nadat hy hulle glo in die rigting van Schoenmakerskop gejaag het.

Kol. Priscilla Naidu het aan Huisgenoot bevestig dat die persoon reeds 'n verklaring by die Walmer-polisiestasie afgelê het.

Sy sê egter geen bewyse is op hierdie stadium aan die polisie verskaf nie. 

Naidu sê die man beweer ook hy het'n videopname gemaak van die kwaaddoeners terwyl hulle die vuur stig. Sy het dit egter nog nie onder oë gekry nie.

“Niemand is op hierdie stadium in hegtenis geneem nie en die saak word nog ondersoek,” het sy gesê.

Só het Donderdag in die Sardiniabaai-omgewing gelyk.

Intussen het nooddienswerkers Donderdagaand nog verwoed geveg om brande in Van Stadenskloof, Bushbuck Ridge, Sardaniabaai, Rocklands en Victoria-rylaan, onder beheer te bring.