Na jare van diep waters vir Amor Vittone (44) en haar familie, het hulle nog ’n groot terugslag beleef toe haar swaer Mike (48) onlangs gediagnoseer is met derdegraadse limfkanker.

[caption id="attachment_141964" align="alignnone" width="600"]Amor en haar pa Dario. Foto: Tumelo Leburu Amor en haar pa Dario. Foto: Tumelo Leburu [/caption]

Die kankerspook het die afgelope week nog verder die familie geteister toe Amor se pa, Dario Vittone, die afgelope ruk nie homself gevoel het nie.

“Hy het krampe in sy maag gehad en met die onlangse diagnose van my swaer was hy bekommerd. My ma moes hom maar soebat om dokter toe te gaan, want mans hou mos nie daarvan nie.

“Die dokter het ’n biopsie gedoen en het genoem dit mag dalk kanker wees. Ons het vir vyf dae gespanne gewag vir die uitslag. Ek was die hele naweek huilerig,” vertel Amor.

Gelukkig het hulle Dinsdagaand die nuus ontvang dat hy kankervry is. “Die dokter het gesê my pa is een van die sterkste en fiksste 75-jariges wat hy ken.”

Amor se suster, Ilana, is ’n mediese dokter en woon al die afgelope 20 jaar in Kanada.

“Dis vir my pa so hartseer dat sy tweede skoonseun nou so siek is. Eers is Joost gediagnoseer met MNS en nou my swaer met derdegraadse limfkanker.”

– Nadia Honiball