Vir die meeste mense is slange iets vreesaanjaends waarvan ver weggebly moet word.

Moet ook nie dink hierdie reptiele skuil net in die veld, donker hoekies of agter klippe nie; hulle kan selfs onverwags uit die water kom terwyl jy rustig langs ’n meer stap.

[post-slider]

Dit is presies wat onlangs met Kate King van Pretoria gebeur het. Tydens haar en haar gesin se vakansie in die Wes-Kaap het hulle in die Weskus Nasionale Park langs die Langebaanmeer gestap toe ’n pofadder voor hul oë uit die soutwater kom.

Sy het foto’s van die voorval op die Facebook-blad Snakes of South Africa geplaas.

Al dink mense dalk dis vreemd, is dit nie ’n ongewone verskynsel nie, sê Mike Perry van die organisasie African Reptiles and Venom van Johannesburg.

“Alle slange kan goed swem, want hulle moet dikwels mere of riviere oorsteek,” verduidelik hy.

Pofadders, wat veral in die suide van die land voorkom, is een van die gevaarliker slangsoorte.

Mike sê ’n pofadder se gif is sitotoksies. Dit beteken dit val die weefsel en bloedselle aan.

“As ’n pofadder iemand pik en die mens word nie so gou moontlik behandel nie, sal dit noodlottig wees.”

Terwyl die meeste slange vlug wanneer mense naby hulle kom, lê ’n pofadder eerder stil en wag.

Die prikkelbare kalant het ’n kenmerkende sis of blaasgeluid wanneer hy gesteur word, sê Mike.