Die Jacaranda FM-omroeper gaan vanjaar by die Innibos-kunstefees te sien wees in sy eenmanproduksie, Rian met Rian.

“Dit gaan aan die een kant ’n baie maklike onderhoud wees,” bieg Rian.

In dié produksie gaan hy aan homself vrae moet stel en ook die vrae moet beantwoord.

“Dit gaan maklik wees om die vrae te stel, maar om dit te beantwoord, sal ’n bietjie ongemaklik wees,” sê hy.

Volgens Rian gaan hy eerlik op al sy vrae antwoord.

“Ek gaan ook vir die eerste keer oor goed praat waaroor ek nog nie tevore gepraat het nie.”

Hy wou nie uitbrei oor wat die onderwerpe gaan wees nie.

Rian het destyds sy eie geselsprogram, Rian, op kykNET gehad.

“Met my TV-program sou ek altyd soveel moontlik navorsing oor die mense gedoen het, maar dit is nou ietwat makliker, want ek het reeds al die navorsing oor myself.”

Rian het ook gesê hy gaan Jacaranda FM einde Junie amptelik verlaat.

“Ek wil nog nie veel sê oor wat my planne ná Jacaranda gaan wees nie, maar ons werk aan ’n televisieprogram.”