Die hof was verkeerd toe dit verlede jaar beslis siek mense mag kies om hul lewe te beëindig.  

So het die appèlhof Dinsdagoggend beslis nadat die hooggeregshof in Pretoria aanvanklik verlede jaar beslis het jy mag maar kies om te sterf.

“ ’n Hofbevel wat ons wetgewing rondom moord so geweldig beïnvloed, kan nie gemaak word sonder dat dit nie belangrike regsbeginsels in ag neem nie en moet daarom tersyde gestel word,” het die vyf regters van die appèlhof in hul uitspraak beklemtoon.

Nadat adv. Robin Stransham-Ford, wat geweldig siek was weens kanker, verlede jaar die reg toegestaan is om te sterf, het die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe die beslissing teengestaan en het die appèlhof dit Dinsdagoggend bekragtig.

Stransham-Ford is oorlede enkele ure voor die hof verlede jaar in April hul uitspraak gelewer het.

Die appèlhof het ook beweer daar is bewyse dat Stransham-Ford enkele ure voor sy dood van plan verander het en nie meer wou sterf nie. Hy het glo sy dokter gevra of hy van plan kan verander en gesê hy het nagmerries oor die dood.

Dinsdag se beslissing is ’n groot terugslag vir kampvegters wat vra dat mense wat feitlik op die rand van die dood is weens hul siekte, mag kies om te sterf.

“Ons moet onsself afvra watter soort regering laat mense toe om so vreeslik te ly, al is dit duidelik dat hulle willens en wetens wil sterf, bloot omdat die besluit omstrede is?” het die organisasie Dignity SA, wat Strasham-Ford bygestaan het in sy saak, Dinsdag in ’n verklaring gesê.