Die sanger en kykNET-aanbieder Gerrie Pretorius, wat tans op reis is na Tristan da Cunha, se vaart kry die wind van voor.

Sy ondersteuningsboot, die Trekker 2, moes weens meganiese probleme die bemanning ontruim.

Hy skryf op Facebook die seiljag het water in die stuurstelsel gekry, maar dat almal ongedeerd is. "Ons praat met die Nasionale Seereddingsinstituut oor die situasie en die risiko daaraan verbonde om verder te reis," skryf hy.

"So moet asseblief nie bekommerd wees nie. Ons is veilig en werk aan ’n pragtige program. Ek belowe ons sal veilig terugkeer."

[caption id="attachment_153181" align="alignnone" width="599"]Gerrie en sy span reis tans via St. Helena na die afgeleë eiland Tristan da Cunha. Gerrie en sy span reis tans via St. Helena na die afgeleë eiland Tristan da Cunha.[/caption]

Gerrie en sy span is onderweg na die afgeleë eiland in die Atlantiese Oseaan waar hulle graag vir sy reisprogram, Leef Jou Reis, wil gaan vasvang hoe die 265 mense op die eilandjie leef en boer. Die hoofeiland beslaan net 98 vierkante kilometer, vier keer kleiner as Kaapstad se munisipale gebied.

Die roete tussen Sint Helena-eiland, waar Gerrie-hulle op die oomblik is, en Tristan da Cunha is baie gevaarlik. As hulle die eilandjie, "wat soos ’n naald in ’n hooimied is", misvaar, stuur hulle reguit af op Antarktika.

Daar is nog geen nadere inligting beskikbaar oor wanneer Gerrie en sy span weer die tog na Tristan da Cunha sal kan aanpak nie.

Bykomende bron: kykNET