En daar los Nicci vir Tim soos ’n sak patats voor die kansel!

Suidooster-kykers het in Maandagaand se episode geskok toegekyk hoe Nicole October (Gerwen Simon) vir Tim du Plooy (Marco Spaumer) op hul troudag los.

Dadelik het die tonge geklap met die vraag op almal se lippe: hoe gaan Tim reageer? Wat gaan hy doen om Nicci terug te wen? En meer belangrik: gaan Nicci en Rhafiek wel ’n verhouding begin?

Suidooster 7

Suidooster 6

Ons het bietjie by die vervaardigers van dié gewilde Kaapse sepie gaan uitvis oor wat volgende gaan gebeur.

Volgens hulle is Tim natuurlik woedend dat Nicci hom by die kansel los en hy gaan dit beslis nie net gelate aanvaar nie. Hy besef al te goed daar is net een rede agter Nicci se skokkende besluit: Rhafiek.

Rhafiek het immers ’n rukkie terug apart aan Tim en Nicci erken dat hy gevoelens vir haar het.

Suidooster 3

Lees ook: Suidooster-temalied kry spoggerige musiekvideo

Dit het Nicci twee keer laat dink toe sy vir Rhafiek in die kerk sien instap en sy kon net nie voort gaan met die groot stap om trou aan Tim te beloof nie.

Suidooster2

Tim is vir ’n dag of wat na die troue skoonveld, maar hy maak eindelik sy opwagting en is reg vir wraak. Die handskoene is nou af en Tim is daarop uit om die lewe vir Nicci en veral vir Rhafiek moeilik te maak.

Rhafiek en Nicci moet boonop ook die gevolge van haar dade in die gesig staar en hoewel hulle katvoet om mekaar is, neem Rhafiek die leiding en besluit genoeg is genoeg: hy en Nicci hoort saam.

Suidooster 4

Hoewel hulle besef dit gaan nie maklik wees nie, wil hulle bymekaar wees – al loer Tim in die skadu. Teen die tyd wat Rhafiek en Nicci se verhouding op die lappe kom, is Tim gerat om die lewe vir hulle ablei te versuur.

Suidooster 5

Dus, danksy Tim is dit nie maanskyn en rose vir Ruiterbosch se nuwe paartjie nie. Vriendskappe tussen die ander karakters word ook getoets, terwyl Nicci se ma, Bridgette rondloop soos ’n kat wat room gekry het.

’n Mens sal verwag dat haar uitgeslape pa, Ian, op ’n manier vir Tim nou by Suidooster Eiendomme gaan uit werk, reg? Maar, die band tussen Ian en Tim word eintlik sterker tot Nicci, Rhafiek en Bridgette se verbasing en meer belangrik: tot Tim se pa, Chris, se kommer.

Kyk hier hoe Tim en Nicci se verhouding tot dusver verloop het: