Die klagte van bedrog waarvoor Pravin Gordhan, minister van finansies Woensdag in die hof voor moes verskyn, is Maandag teruggetrek. Dié skokaankondiging is gemaak deur Shaun Abrahams, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria. Gordhan, Oupa Magashula, oudkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), en Ivan Pillay, oud-adjunkhoof van die SAID is onlangs gedagvaar om Woensdag in die landdroshof in Pretoria te verskyn. Die bedrogklagte, waarvan hulle onder meer aangekla sou word, het te doen met Pillay se vroeë aftrede en sy daaropvolgende heraanstelling op kontrakbasis.

Verskeie instansies sowel as sakelui het die NVG se besluit om Gordhan te vervolg, kritiseer. Abrahams het ook ‘n brief aan Gordhan, Magashula en Pillay se regsverteenwoordigers gestuur om te bevestig die klagte teen hulle is teruggetrek.
Tydens die mediakonferensie het Abrahams nie enige blaam op homself geneem vir die besluit om Gordhan hof toe te vat nie.
“Die besluit wat geneem was, is nie my besluit nie. Ek was tevrede dat daar ‘n saak was. Ek het na die dossier gekyk,” het Abrahams gesê.
Hy het verder gesê sy magte het eers ‘n rol begin speel toe dit gekom het by die punt waar die besluit hersien moes word. Abrahams het dit baie duidelik gemaak hy skuld niemand ‘n verskoning vir wat gebeur het nie en ook dat hy nie gaan bedank in die lig van wat gebeur het nie.
Op ‘n vraag of iemand se kop nie moet rol vir dié fiasko nie, het Abrahams gesê hy sal dit ondersoek.

Twitter reageer