ONGEPOETS, maar skreeusnaaks.

Dis wat jy kry as jy Molly en Wors en hul kinders, Vaatjie en Blapsie, om die ontbyttafel daar op die stoep van hul huis in Johannesburg sit.

En jy moet maar weet: Niks is heilig nie. Seks, Molly se skoonma, moet-troues, vreemde feite oor die mens se anatomie . . .

Maar die kykers slurp dit op.

“Die mense is liewer as ooit vir die Visagie-gesin,” vertel die akteur en skepper van Molly en Wors, Willie Esterhuizen, waar ons saam met hom, Gerhard Odendaal (Vaatjie) en Carien Botha (Blapsie) om ’n koppie

koffie sit en kuier.

“Klein kindertjies kom gee ons drukkies in die winkel. Nou die dag loop ek in Londen se strate en skielik gil drie meisies: ‘My maggies, dis Worsie!’ Toe moet ek net daar voor Harrods vir foto’s poseer,” vertel Willie trots.

En hy kan maar trots wees. Nou die dag het hy vir die eerste keer vir hom ’n profiel op Facebook geskep en drie weke later het hy 5 000 vriende gehad.

As die sosiale netwerk se administrateurs hom nie hokgeslaan het nie, was dit meer, want nog 919 hoopvolles wag om as vriend aanvaar te word. Boonop is meer as 56 000 mense deel van die Molly en Wors-gemeenskap

op Facebook.

En hier is die goeie nuus: Die volgende seisoen is klaar geskryf en behoort in April op die kassie te wees.

Lees meer oor Molly & Wors in die Huisgenoot van 30 Desember 2010