Nog ’n terugslag het die tegno-reus Samsung getref: Die plaaslike lugdiens SAL het bekendgemaak hulle sal nie meer die omstrede Galaxy Note 7-selfone aan boord toelaat nie.

samsung

“Die besluit is om veiligheidsredes geneem en om die belange van ons passasiers en personeel en ons eiendom te beskerm. Dit raak alle SAL-vlugte en sal van 19 Oktober van krag wees,” het die lugdiens se woordvoerder, Tlali Tlali, in ’n verklaring gesê.

Dit volg nadat die nuwerwetse Samsung-model, wat in Augustus vanjaar bekendgestel is, reeds in die buiteland op sommige vlugte verbied word. Die maatskappy was in die sop nadat ’n paar gebruikers gekla het hul selfoon het vlam gevat of die battery het ontplof.

Dié fone is toe van die mark gehaal en met nuwe modelle vervang, maar die probleem duur glo voort en die selfoon bly ’n veiligheidsrisiko.

“Die Galaxy Note 7 mag nie in reisigers se besit, hand- of ander bagasie aan boord wees nie,” het die SAL gesê.

“Ons het aanvanklik net die gebruik en herlaai van hierdie slimfoon aan boord beperk, maar nadat die selfoon van die mark herroep is weens kommer oor die veiligheid daarvan sowel as besluite deur owerhede aan wie se vereistes ons moet voldoen, moes ons die foon noodgedwonge verbied,” het Tlali gesê.