Toe Kate Middleton in 2011 in die Westminster-abdy voor die kansel gaan staan om met prins William te trou, kon niemand uitgepraat raak oor hoe mooi sy lyk nie.

Haar rok, met ’n vol A-lynromp, hoë kantkraag en handgeborduurde kantmoue, is deur Sarah Burton van Alexander McQueen ontwerp en dit het die jong vrou van Berkshire soos ’n ware prinses laat lyk.

Maar vyf jaar later dagvaar ’n ontwerper van ’n klein ateljee in Hertfordshire die modehuis; sy beweer hulle het die ontwerp by haar gesteel.

Lees ook: Ontmoet al die koninklike kleinkinders op die foto wat vir die koningin 90ste verjaardag geneem is

Christine Kendall hou vol haar sketse was die inspirasie vir die pragtige rok – sy het dit reeds gesê in ’n video wat in 2013 op YouTube geplaas is.

“Ek glo sonder my sketse sou die koninklike trourok anders gelyk het,” sê Christine. Sy voer aan sy het die ontwerpe met ’n 1950’s-tema vyf maande voor die troue aan Kate gestuur en in Januarie 2011 ’n antwoord van die paleis gekry.

“Mej. Catherine Middleton het my gevra om aan jou te skryf en jou te bedank vir jou brief van 18 November met trourokontwerpe daarby,” het ’n beampte geskryf.

“Mej. Middleton was baie beïndruk om jou werk te sien en het dit baie waardeer dat jy die moeite gedoen het om te skryf. Sou sy nog van jou ontwerpe wou sien, sal ek natuurlik in aanraking kom.”

Vier jaar gelede het Christine die onderneming self genader, maar dit was vergeefs. Toe het sy in Londen by die hof vir intellektuelegoederereg ’n regsgeding teen Alexander McQueen begin, en die hof kan skadevergoeding van tot R13,6 miljoen toestaan.

“Verrigtinge is pas begin, want ons kliënt is seker haar ontwerp is onregverdig gebruik en nageboots,” het haar prokureur, Humna Nadim, aan die Britse Sunday Times gesê.

Die prokureur het gou bygevoeg Christine het geen geskil met Kate self nie. “Die eis is nie teen die hertogin nie en daar is geen bewering van oortreding teen die paleis nie.”

Maar Alexander McQueen sê hulle is “verstom” oor die bewering.

“Christine Kendall het ons amper vier jaar gelede genader. Toe reeds het ons enige bewerings dat Sarah Burton haar ontwerp afgekyk het as snert afgemaak,” het ’n woordvoerder gesê.

“Sarah het nooit enige van mej. Kendall se ontwerpe of sketse gesien nie en het nie eens van haar geweet voor sy met ons in verbinding getree het nie – sowat 13 maande ná die troue. Ons weet nie hoekom mej. Kendall dit weer opper nie, maar daar is geen asse, maars of dalke hier nie: die bewering is belaglik.”

Kate se rok het na raming sowat R500 000 gekos en ’n span borduurders by die Koninklike Skool vir Naaldwerk by die Hampton Court-paleis het dit met die hand aanmekaargewerk.

Lees ook: Al die mylpale, prag en praal van Koningin Elizabeth se nege dekades op aarde

Volgens die Mirror het hulle handskoene gedra en moes hulle elke halfuur hul hande was om te sorg dat die materiaal silwerskoon bly. Die projek was so ’n groot geheim, nie eens die borduurspan het tot op die troudag geweet wie die ontwerper was nie.

Bronne: The Mirror, The Sunday Times, News.com.au

Ander stories op Huisgenoot.com:

Andriëtte in die wolke ná sege by Ghoemas – al loop sy dit byna mis

Pierre Greeff en Loki Rothman voer jou mee in roerende duet saam

Kyk hoe gelukkig is Dozi se eks deesdae!

Kurator van Huisgenoot-uitstalling met Kanna vereer in ons 100ste bestaansjaar

Kyk: Groot opwinding in dié geliefde Pasella-aanbieder se huishouding

Hierdie wakkerweeswenke kan keer dat JY gekaap word