[caption id="attachment_143081" align="alignnone" width="601"]Amber Tamblyn en David Cross. Foto: Wenn.com Amber Tamblyn en David Cross. Foto: Wenn.com[/caption]

Die ster van The Sisterhood of the Traveling Pants het in ’n openhartige essay oor die uitdagings wat vroue in die hedendaagse samelewing die hoof moet bied, op Glamour.com onthul dat sy ’n dogtertjie verwag.

In die artikel, wat verlede Woensdag gepubliseer is, het Amber geskryf: “Moederskap is op my brein, want ek gaan binnekort ma word. Ek is swanger en daar is ’n dogtertjie op pad. Ek dink gedurig aan die soort wêreld waarin ek haar gaan bring.”

Die 33-jarige erken sy bekommer haar as toekomstige ma oor hoe sy haar dogter sal kan “beskerm” teen “hoe vroue beskou word”, tensy houdings drasties verander.

“Ek het die afgelope tyd baie oor moederskap gedink,” het sy bygevoeg.

“Wat dit beteken om een te wees, wat dit beteken om een te hê, wat dit beteken om een te ken, wat dit beteken om besluite te neem as een en gesprekke te voer as een. Ek is baie gelukkig in die opsig dat ek omring word deur sterk moeders, van my ma af tot by sommige van my beste vriendinne – diegene wat jong vroue grootmaak wat hulself kan aanvaar en diegene wat jong mans grootmaak om vroue te aanvaar.”

Amber verduidelik ook waarom Hillary Clinton se poging om die eerste vrouepresident van die VSA te word so belangrik is, terwyl sy haar stem per e-pos stuur vir die stemmery op 8 November vanjaar.

Sy het voorts gesê: “Sodra ek klaar is met hierdie stuk, gaan ek terug na my lessenaar en vul my posstembriefie in. Ek gaan vir meer as net ’n vrou stem; ek gaan vir ’n vernuwende idee stem.”

Met ’n steek in die rigting van Donald Trump van die Republikeinse Party, Clinton se teenstander, sê sy ter afsluiting: “Ek gaan vir ’n toekoms vir my dogter stem waar gesprekke oor ons lyf en ons lewe breër strek as die waarde wat mans daaraan heg. ’n Toekoms waar, om ’n moeder te wees, in ’n mindere mate handel oor ons dogters te waarsku teen ons seuns en hulle in plaas daarvan ophef tot by hul hoogste potensiaal. ’n Toekoms waarin my dogter eendag sal sê: “Donald wie?” en waar sy dink daar’s niks nuuts aan ’n vrou wat president word nie. ’n Toekoms waar sy nie eens sal kan glo daar het ooit so iets bestaan nie.”

Amber het vroeër vandeesmaand haar gevoelens jeens Trump onomwonde gestel in ’n boodskap op Facebook, toe sy haar eie ondervinding rakende seksuele teistering openbaargemaak het in reaksie op die skandaal wat die onsmaaklike opmerkings van die eiendomsmagnaat en werklikheidster ontketen het.

Tamblyn, wat in 2012 met Cross, ’n ster van Arrested Development, getroud is, gaan nie die enigste nuwe ma in haar vriendekring wees nie – haar beste vriendin en medester in The Sisterhood of the Traveling Pants, Blake Lively, het haar en haar man, Ryan Reynolds, se tweede kind onlangs verwelkom, terwyl hul stelmaat Alexis Bledel verlede jaar in die geheim ma geword het.

– Cover Media