Hierdie komende Woensdag daal die prys van petrol met 99c terwyl die prys van diesel tussen 73c en 74c gaan afneem.

Dit is danksy die feit dat die rand in onlangse tye sterk teen die dollar vertoon. “Die rand het sy onlangse opmars teen die dollar voortgesit en die afgelope twee maande amper deurentyd verstewig,” sê die Automobiel-Assosiasie (AA).

“Die plaaslike geldeenheid het einde Mei teen R15,70 teen die dollar verhandel, maar staan nou op sowat R14,20.”

Tog wys die AA daarop dat ondanks die rand se indrukwekkende prestasie die afgelope ruk, het dit maar sowat 25 sent tot die verwagte daling in die brandstofprys in August bygedra. Die res was danksy die voortgesette afname in die internasionale brandstofprys ná Brittanje se Brexit-stem.

“Gegewe die heersende ekonomiese toestande sal dié meevaller welkome verligting aan privaat motoriste sowel as die vervoerbedryf bied.”

Die daling in die brandstofprys kom midde-in arbeidsoptrede in die petroleumsektor wat raffinaderye en opslagplekke van petroleummaatskappye raak.

Rakende die staking sê die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfvereniging (SABBV) brandstof is steeds in voorraad en hulle het gebeurlikheidsplanne in plek vir die staking.

Die SABBV het motoriste aangeraai om by hul gewone hervullingspatroon te hou sodat die brandstofbedryf kan verseker voorraad is deurentyd beskikbaar.

Bron: Fin24