“Ons het dit nog nie op die lappe gebring nie, maar ons beplan om volgende jaar in Maart Engeland toe te gaan,” verklap die akteur en rolprentvervaardiger Leon Schuster. “Ons wil ’n fliek skiet met Suid-Afrikaners in wat in Londen en Birmingham woon – weer ’n candid camera fliek. Daar is duisende Suid-Afrikaners wat daar woon.”

Ons het Leon onlangs raakgeloop by die herbekendstelling van Nu Metro Hyde Park in Johannesburg, waar die eerste vierdimensionele superfliekteater (4DX-teater) in Gauteng geopen het.

“Dis om dit bietjie anders te maak,” vertel Leon verder oor sy planne om in Engeland poetse te gaan bak. Anders raak ’n ou vasgevang in die gewoonte van dieselfde ding doen. So ek en my vriend Shorty (Alfred Ntombela) gaan volgende jaar op 'n vliegtuig klim, en ek is seker die pret sal al gedurende ons vlug begin,” sê Leon laggend.

Hy het einde verlede jaar aan die dagblad Beeld vertel hy en die eiendomsagent Amanda Coetzee beplan om einde 2015 verloof te raak.

So hoe lyk deesdae op die liefdesfront? “Baie stabiel," sê hy. "Ons is steeds nie verloof nie.

“Ons wag nog vir die regte tyd. Dit sal nog kom. Ons het elkeen vir ons eie redes besluit ons wil nie nou verloof raak nie. Ons het as grootmense saam daaroor besluit.

"Ons is nog saam, maar ons wag vir daardie regte, regte oomblik. En sou reken die regte oomlik moet in Parys, Frankryk of Venisië in Italië of so 'n grand plek wees," sê hy met 'n sprankel in sy oog. "Daar waar dit lekker romanties kan wees."

En wat van in Engeland? "Ja, miskien," antwoord die grapmaker en lag lekker.