Caden Slabbert (9), wat breinskade opgedoen het nadat hy verlede jaar teen die kop getref is deur ’n baksteen, gaan saam met sy gesin na Amerika verhuis.

Sy ma, Andriëtte Cooper, het aan Huisgenoot.com bevestig Caden se stiefpa, Gordon, het ’n werk in Amerika gekry.

Hulle het om spesialiteitsvisums aansoek gedoen en hoop om binnekort te vertrek.

Lees ook: Goeie nuus oor agtjarige wat maand terug deur baksteen op N12 getref is

Volgens Andriëtte wou hulle al geruime tyd emigreer, maar hulle moes hul plan tydelik laat vaar nadat Caden in April 2015 getref is deur ’n baksteen wat sy biologiese pa, Justin, se motorruit aan skerwe laat spat het.

Dit gaan deesdae beter met Caden, wat ná die voorval in ’n koma was en daarna weer moes leer loop en praat. Hy is sedert begin vanjaar in ’n Wes-Randse skool vir kinders met spesiale behoeftes en het gr. 2 herhaal.

Lees ook: ‘Ek wens dit het nooit met my gebeur nie,’ sê baksteenslagoffer Caden

“Caden het ’n suksesvolle jaar gehad en baie mooi gevorder,” vertel sy ma.

[caption id="attachment_145073" align="aligncenter" width="600"]Foto: Verskaf. Foto: Verskaf.[/caption]

Sy grootste uitdaging is taalvaardighede – om te lees en homself uit te druk. Hy gebruik nog Epillim-medikasie om stuipe-aanvalle te voorkom.

Volgens Andriëtte het Justin, van wie sy jare gelde geskei het, as biologiese ouer toestemming gegee dat hulle met sy seun na Amerika verhuis. Justin self het geen planne om te emigreer nie.

“Caden sien verskriklik uit daarna om VSA toe te trek,” vertel Andriëtte. Ons het hierdie hele jaar op ons emigrasieplanne gekonsentreer. Die dokumentasie is ingedien en nou wag ons net . . .”

Justin het familie in Amerika, wat die groot skuif sal vergemaklik.