Rassie gaan in Januarie 2018 weer by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) inval in 'n nuwe pos: as die nuwe direkteur van rugby. Die voormalige Cheetahs- en Stormers-afrigter het ’n jaar gelede by die Ierse klub Munster aangesluit as hoofafrigter.

In sy tyd daar is hy as die Guinness Pro12-afrigter van die jaar aangewys. Die span het ook in dié tyd 26 van hul 32 wedstryde gewen. Sy kontrak met hulle verstryk einde Desember.

As die nuwe direkteur van rugby by Saru sal die voormalige Springbok-flank toesig hou oor al agt Suid-Afrika se nasionale spanne. Hy sal ook kompetisies bestuur en in beheer wees van die ontwikkeling van spelers, afrigters en skeidsregters.

Die huidige Bok-afrigter, Allister Coetzee, sal dus nou aan Rassie moet rapporteer.

Allister bly aan as Bok-breier, het Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, bevestig.

"Allister het goeie werk gedoen om die Bokke dié seisoen weer op koers te kry, en hy word beslis nie as Springbok-afrigter vervang nie," sê hy. "Ons sal alles in ons vermoë doen om hom in die Rugbykampioenskapsbyeenkoms en daarna te ondersteun."

Rassie se jare lange regterhand en Munster se verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, wat verlede jaar saam met Rassie Ierland toe is, keer terug na Saru as hoëprestasie-afrigter.

Bronne: netwerk24, citizen.co.za, rte.ie