Haar vyfjarige seun Melti (Melt) het eindelik ’n gepaste, plaaslike beenmurgskenker gekry wat sy jong lewe kan red, mits hulle genoeg geld bymekaar kry.

Dis Vrydag bevestig: Die skenker se beenmurg is 100 persent versoenbaar met Melti s’n. “Ons is ook nou klaar met die intensiewe sessies chemo. Dis nou net een keer per maand ’n chemo-inspuiting en elke aand ’n pilletjie as instandhouding tot die operasie,” vertel Melanie.

In April het sy aan Huisgenoot.com vertel hoe verpletter sy was ná sy die tweede keer in drie jaar die hartverskeurende nuus ontvang het dat Melti behandeling teen leukemie moet kry.

Kayleigh, Melti se susse se briefie aan hom. Foto: Verskaf

Dit sal sowat R1 miljoen kos om die oorplanting te doen. Melani-hulle het probeer onderhandel met die mediese fonds dat hulle helfte sal betaal deur die trustfonds en dat hulle die res sal dek. Maar die fonds wou van niks weet nie omdat hulle meen dis nie “’n voorgeskrewe minimum voordeel” nie.

Reeds voor sy tweede verjaardag is chroniese mieloïede leukemie by Melti gediagnoseer. Einde 2013 was Melti se kanker in remissie, maar drie jaar later was die bloedkanker terug. Nou is daar darem weer ’n sprankie hoop danksy die skenker.

Dawie du Toit vat Melti per helikopter oor Harties. Foto: Verskaf

Die naweek het Dawie du Toit, eienaar van Van Der Stels Pub in Tuine, Pretoria, Melti in ’n helikopter oor die Hartbeespoortdam gevat.

Op 2 September is die volgende geldinsameling vir Melti, wat gehou word in Silverton Palms Pool Klub op die hoek van Fakkel- en Krige-straat, Pretoria.

Nader Melanie by mgrobler.melanie@gmail.com vir meer inligting.