Die graderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P) het Suid-Afrikaanse banke tot niebeleggingsgraad (BB+) afgradeer om te strook met sy gradering van die land.

S&P het Nedbank, Absa, Investec en FirstRand afgradeer nadat die markte in Suid-Afrika Woensdag gesluit het, toon die graderingsagentskap se webtuiste.

Nedbank sê: “Moody’s het Suid-Afrikaanse bankgraderings, onder meer Nedbank s’n, onder graderingshersiening geplaas en in pas met die kredietgradering deur S&P verlaag”.

Banke kan nie ’n hoër gradering hê as die land se buitelandse valuta soewereine kredietgradering nie. Laasgenoemde is verlede Donderdag tot rommelstatus verlaag.

“Dit volg weens die waarskynlike direkte en indirekte invloed van kredietnood op binnelandse banke se bedrywighede, onder meer hul vermoë om buitelandse valutaverpligtings na te kom,” het S&P Woensdag in ’n verklaring gesê.

Lees ook: Suid-Afrika se rommelstatus: Sewe goed wat jy moet weet

“Suid-Afrikaanse banke se graderings word beperk deur die Suid-Afrikaanse kredietgradering en enige veranderings daaraan word outomaties in die kredietgraderings van Suid-Afrikaanse banke weerspieël,” het Nedbank Donderdag in ’n verklaring gesê.

Die graderingsoptrede weerspieël S&P se beoordeling van die Suid-Afrikaanse kredietgradering en die bankbedryf as geheel en is nie bankspesifiek nie. “Die verlaging van die graderings vir Suid-Afrika weerspieël ons mening dat politieke en institusionele stabiliteit in die land verswak het,” het S&P in ’n verklaring rakende Nedbank gesê. “Maar te midde van stadige ekonomiese groei en politieke toutrekkery het die Suid-Afrikaanse banke veerkragtig presteer.” S&P sê die negatiewe vooruitskouing op Nedbank het te doen met die land se kredietgradering.

“Ons sou die graderings vir die bank verlaag of die vooruitsig tot stabiel hersien sou daar ’n soortgelyke optrede wees wat die land se kredietgradering betref.

“Ons sien positiewe of negatiewe graderingsoptrede wat die bank betref as ’n geringe moontlikheid in die volgende 12 maande.”

Nedbank se uitvoerende hoof, Mike Brown, sê “ondanks die afgradering moet ons onthou Nedbank werk in ’n Suid-Afrikaanse bankstelsel wat gesond en goed gekapitaliseer is.

“Toe ons ons finansiële resultate in Februarie vanjaar bekendmaak, het ons resultate getoon Nedbank is baie gesond. Ons is goed voorbereid om die onbestendigheid te hanteer wat ’n afgradering tot subbeleggingsgradering meebring.

“Ons het sterk kapitaal en likiditeitsvlakke en ons planne vir 2017 is in plek en sluit robuuste strestoetsing in. Dit beteken ons het die strategieë, mense en balansstaatkrag om ons weg te vind deur die moeilike omgewing in Suid-Afrika.”

Suid-Afrika se seslid-bank-indeks het met meer as 10 persent afgeneem sedert pres. Jacob Zuma Pravin Gordhan verlede week as minister van finansies verwyder het.

Suid-Afrika se banke het ná die afdanking van Gordhan en sy adjunk, Mcebisi Jonas, van Dinsdag af R61 biljoen verloor.

S&P sê die ernstiger afgraderings van die niebedryfshouermaatskappye Barclays Africa en FirstRand weerspieël sy beskouing van die toenemende risiko vir strukturele ondergeskiktheid ná die afgraderings van die bedryfsbankentiteite tot spekulatiewe graad.

“As gevolg hiervan, tesame met die onderskeie afgraderings van bedryfsentiteite, het ons ons nasionale skaalgraderings op die niebedryfshouermaatskappye met vyf plekke verlaag. Dit strook met ons karteringskriteria.”

Bron: fin24.com