credit-card-1520400_960_720

“Biometrie (onder meer meting van liggaamsdele) is al baie jare beskikbaar, maar dit is nog nooit benut wat betalings betref nie,” sê Walter Volker, uitvoerende hoof van BVSA.

Danksy die nuwe tegnologie kan die manier waarop betalings gedoen word heeltemal verander. Waar biometriese tegnologie ook al tans gebruik word, bly dit beperk tot die standaarde van ’n betrokke entiteit.

Die biometriese waarmerking wat banke gebruik, is beperk tot elke bank se eie takke. Dit beteken daar kan nie vir ’n klant van ’n ander bank voorsiening gemaak word nie, verduidelik Walter.

Die bekendstelling van die nuwe standaard is ’n “eerste in die bedryf”, want tot dusver was daar nie iets soos ’n onderling werkende standaard wat deur meer as een entiteit gesteun word nie, sê hy. Die nuwe tegnologie sal banke betalingsopdragte kan laat uitruil. “Die ontsluit netwerk-effekte, want verbruikers is nie tot ’n bank of tegnologieverskaffer gebind nie.”

MasterCard en Visa het die projek ondersteun nadat BVSA hulle in Maart 2015 genader het. Danksy hul gesamentlike ervaring is ’n onderling werkende standaard bekendgestel wat vingerafdrukke deur ’n biometriese leser aanvaar, sê Walter.

Die standaarde voldoen aan die Internasionale Organisasie vir Standaarde en Europay, MasterCard en Visa se vereisters. Banke en ander finansiële instellings kan besluit of hulle die standaard aanvaar en later infrastruktuur bekendstel om vingerafdrukke te lees, of dit nou by hul takke of OTM’s is, verduidelik hy.

As banke kaarte uitreik wat met vingerafdrukke gewaarmerk word, sal hulle heel waarskynlik die infrastruktuur bekendstel om dit te lees, sê hy. Die opgradering van OTM’s sal afhang van die volume kaarte wat uitgereik word. Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid is gretig om die tegnologie vir die uitbetaling van maatskaplike toelaes te aanvaar, sê Walter.

Mark Elliott, afdelingshoof vir MasterCard Suid-Afrika, verduidelik toonaangewende tegnologie is ’n geleentheid vir sake. Digitale samevloeiing beteken ’n verbruiker kan nou hul beursie by die huis los en net op mobiele toestelle staatmaak om betalings te maak. “Die biometriese standaard lê die grondslag. Daar is meer geleenthede om aan nuwe soorte biometriese waarmerking te dink,” sê hy.

Navorsing toon slimfoonpenetrasie is aan die toeneem. Die 15 tot 20 biljoen slimfone sal na verwagting in die volgende dekade verdubbel. Namate meer mense op toestelle staatmaak om betalings te maak, wys dit die belangrikheid daarvan om ’n biometriese standaard te hê, het hy verduidelik.

Marknavorsing deur MasterCard toon 65 persent van Suid-Afrikaners stel belang om biometrie pleks van tradisionele betalings te gebruik en sewe uit 10 mense sê biometrie is ’n makliker manier toegang te kry tot rekenings, sê Mark.

Net een waarmerkingsmetode kan op ’n slag gebruik word, verduidelik Taurai Tarugarira, Visa se senior direkteur van verwerking in Afrika suid van die Sahara. Byvoorbeeld, jy kan óf biometriese waarmerking óf pin-waarmerking gebruik, maar nie albei nie. Dit is om die proses vir verbruikers so soomloos moontlik te maak wanneer hulle betalings maak.

Nog ’n byvoordeel is veiligheid, want dit is moeilik om ’n vingerafdruk, hartklop of polsslag na te boots, sê Taurai. Biometriese lesers sal byvoorbeeld die verbruiker se polsslag, vog of liggaamshitte toets.

Wêreldwyd het tegnologie al ver gevorder, en die gehalte het baie toegeneem. Daarby het die prys van tegnologie afgeneem. Dit beteken betroubare gebruikerwaarmerking is teen ’n haalbare prys moontlik.

Bron: Fin24