Suid-Afrika kry eersdaags nog ’n nuwe mediese skool, hierdie keer aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in Port Elizabeth.

Dié universiteit het Sondag bekend gemaak dat ’n nuwe mediese skool – Suid-Afrika se tiende – daar oopgemaak gaan word.

Prof. Derrick Swartz, vise-kansellier van NMMU, het die aankondiging gemaak kort nadat die staat hul goedkeuring verleen het.

Die besluit is op 6 Julie geneem toe Blade Nzimande, minister van hoër opvoeding en opleiding, NMMU versoek het om teen 2020 ’n nuwe mediese skool te skep en sy bestaande portefeulje van programme vir gesondheiswetenskappe in 10 verskillende kategorieë uit te brei.

Volgens Debbie Derry, woordvoerder van die universiteit, het die instansie jare lank ’n veldtog gevoer om die tweede mediese skool in die Oostelike provinsie te stig.

“Die betekenisvolle besluit kom ná jare van veldtogvoering deur die universiteit vir die skep van ’n tweede mediese skool in die Oos-Kaap, buiten die bestaande een by die Walter Sisulu-universiteit (WSU) in Mthatha,” het Debbie in ’n verklaring gesê.

Volgens die universiteit is Suid-Afrika agter by baie lande wat betref die aantal mediese dokters per 1 000 mense.

“Die Verenigde Koninkryk het 120 000 dokters vir ’n bevolking van 60 miljoen; Suid-Afrika, met ’n beovlking van meer as 50 miljoen, het net sowat 27 000 dokters.”

Die nuwe mediese skool sal binnekort met ’n aanvanklike totale inname van 50 begin en tot 200 voorgraadse studente styg, asook opleidingsprogramme vir mediese spesialiste van stapel stuur.

Bron: News24