Ryan Reynolds het verklap hy en sy vrou, Blake Lively, wil baie kinders hê.

Die akteurs is verlede jaar getroud. Ryan het aan die tydskrif Details gesê: “Ons sal mal wees daaroor om ’n groot gesin te hê. Ons kom albei uit groot gesinne – ek is een van vier en Blake een van vyf. Baie mense sê dis malligheid, maar ons sal dit seker eers later uitvind, jy weet? Ons sal die uitdaging met liefde aanvaar, dink ek.”

Die akteur (36) het ook verklap hy hoop op minstens een dogter. Hy het gesê: “Ek is bang dis in my gene om net seuns te hê. Dis skrikwekkend. Toe ek 10 was, het ek geweet hoe om pleisterbord reg te maak. Daar is niks waarin ek en my broers nie gate gemaak het nie. Dis nie juis iets waarna ek uitsien nie!”

Ryan, wat voorheen met die aktrise Scarlett Johansson getroud was, praat nie graag oor sy privaat lewe nie en erken dis vir hom moeilik om sy emosies te verwoord.

Hy het vertel: “Ek bedoel nie om ontwykend te wees nie. As jy my vra om my verhouding te verduidelik, ek meen – woorde kan net nie presies beskryf hoe ek voel nie, veral in ’n onderhoud. Dis vreemd. Ek verstaan die tye waarin ons leef en dat mense nuuskierig is. Maar dis moeilik en amper ’n bietjie gewelddadig, vir enigeen, dink ek, om jou privaat lewe in ’n sin opgesom te sien.”