Daar is ’n groot kans op kragonderbrekings nadat vier opwekkers by drie kragstasies onklaar geraak het, het Eskom Dinsdag gesê.

“Die risiko dat beurtkrag toegepas word, is hoog, maar ons het op die oomblik nog nie daarmee begin nie, omdat ons kon aanhou om krag op te wek,” sê die woordvoerder Khulu Phasiwe. “Ons ingenieurs ondersoek die oorsaak van die instorting.”

Eskom het Vrydag gesê daar is ’n laer risiko van kragonderbrekings tydens Desember. Die woordvoerder Andrew Etzinger het gesê dinge lyk belowend. Die kragvoorsiener het die afgelope paar weke gesukkel om die ligte aan te hou sedert een van hul steenkoolsilos in duie gestort het, weens dieseltekorte en instandhoudingsprobleme.

Eskom het op 5 Desember fase drie van beurtkrag geïmplementeer. Met fase 1 word tot 1000MW van die nasionale lading gestort, met fase twee is dit 2000MW, en met fase drie tot 4000MW.

Eskom se uitvoerende hoof, Tshediso Matona, het op 8 Desember gesê die land beleef nie ’n krisis met kragvoorsiening nie.