Die dak van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg het Donderdagmiddag in duie gestort. Luidens berigte is daar wel beserings aangemeld. Alhoewel daar in hierdie stadium nog nie formele bevestiging is of enigiemand onder die rommel vasgekeer is nie, is reddingspanne besig om deur die puin te grawe.

Volgens EWN het ’n ooggetuie wel aangedui dat daar mense, insluitend werkers en pasiënte, onder die dak vasgekeer is. Die situasie word as "skrikwekkend" beskryf.
Die dak het glo vyf vloere ver geval. Johannesburg se nooddienste het bevestig dat daar ’n soek-en-reddingspan nou op die toneel is.

In 2012 is daar reeds ernstige kommer oor die integriteit van gedeeltes van die hospitaal se struktuur uitgespreek. Daar was toe reeds waarskuwings dat die X-straalafdeling ontruim moes word vanweë die risiko dat die gebou in duie kan stort.

EWN het ’n verslag in hul besit waarin van die probleme met die vyfde vloer gelys is. Die provinsie se hoofingenieur in daardie stadium, Tsepo Matekane, het aangedui dat hulle bewus was van die probleem.

Hy het egter volgehou dat die gebou nié in duie sal stort nie.

So het die gebou in 2012 gelyk: