A photo posted by @hollywoodbulletin on

Volgens haar bestuurder, Kayla Pressman, het Florence Donderdag aan hartversaking beswyk. Sy was 82 jaar oud.

Maar wie was Florence Agnes Henderson voor sy die wonderlike Carol-karakter geskep het?

Anders as in die Brady-huishouding, waar ma Carol altyd gelyk het asof sy alles onder beheer het, het Florence onder moeilike omstandighede as een van tien kinders in Indiana grootgeword.

Haar pa was baie lief vir die bottel en haar ma het weggeloop toe Florence 12 jaar oud was. Sy het nie in sak en as gaan lê nie, maar ’n talent ingespan om die pot aan die kook te hou – sy het gesing.

Sy was twee jaar oud toe haar ma, Elizabeth, haar leer sing het. Elizabeth het glo so 50 liedjies geken en sy het haar bes gedoen om “Florency” te leer sing.

“Ek kan nie eens onthou wanneer ek nie gesing het nie. Ek het gesing en die hoed omgestuur. Ek het gesing vir kruideniersware,” het sy gesê.

Dit was juis haar sangtalent wat vir haar eerste deurbraak gesorg het. In 1951 het sy die hoofrol in Rodgers en Hammerstein se ikoniese musiekblyspel Oklahoma! losgeslaan. Later sou South Pacific volg.

Florence het haar debuut op Broadway gemaak met Wish You Were Here in 1952. Later het 888 optredes in Fanny (1954) gevolg.

Sy het ook ’n heerlike sin vir humor gehad. Kyk net hierdie vrolike optrede deur die Broadway-sangeres saam met die legendariese Dean Martin.

Selfs al het die advertensie in 1958 dalk nie talle na die naaste Oldsmobile-handelaar laat haas om een aan te skaf nie, sou die klingel gewis jare bly vassteek.

Florence was ook ’n baanbreker met haar toetrede tot televisie. In 1962 word sy die eerste vroue-gasaanbieder van die bekende Tonight Show.

Maar dit was haar rol as Carol Brady van 1969 tot 1974 wat haar nie net in Amerika nie, maar ook later in Suid-Afrika diep in mense se hart sou laat inkruip.

In die reeks vertolk sy ’n weduwee met drie dogters wat trou met ’n wewenaar, Mike Brady – vertolk deur Robert Reed – met drie seuns. Wat minder bekend is, is dat The Brady Bunch een van die eerste reekse was waar die samesmelting van twee gesinne sentraal tot die storielyn was.

Buiten as TV-ma vir die weerbarstige halfdosyn op die stel, het sy ook haar eie kroos van vier gehad: Barbara, Joseph, Robert en Lizzie.

Dié foto is op 21 November by Dancing with the Stars geneem. Drie dae later het Florence gesterf.

Florence het juis by Dancing with the Stars verskyn om haar “Brady-dogter” Marsha te ondersteun.

Dalk nog onseker wie Florence was? In 2016 vertolk sy die rol van mev. Robinson in die fliek Fifty Shades of Black.

  Bronne: usatoday.com, abcnews.com, wikipedia.org, latimes.com, abc.net.au, getty.com

So het Twitter reageer