Die redakteur van die gesaghebbende jaarboek, Lawrence Booth, het gesê: “(In 2013) het hy 51 toetspaaltjies in slegs nege wedstryde teen ’n gemiddeld van 17 geneem. In eendagwedstryde was hy net so gevaarlik – hy het 27 paaltjies teen ’n gemiddeld van minder as 16 gekry.”

Lawrence het Dale veral geloof vir sy ekonomiese boulwerk. “Dit is merkwaardig vir ’n man van sy spoed: Hy het net 3,65 lopies per beurt afgestaan – dit was verreweg die laagste onder boulers wat in 2013 minstens 100 eendagbeurte geboul het.”

Dale is die tweede Suid-Afrikaner wat as Wisden se voorste krieketspeler aangewys word, nadat dié eer die voormalige Protea-speler Jacques Kallis in 2007 te beurt geval het.

Die uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, Haroon Lorgat, het die snelbouler gelukgewens: “Dit is ’n besonderse eer vir Dale, wat al byna elke prys gewen en verdien het wat vir hom in wêreldkrieket beskikbaar is. Die hele Suid-Afrika kan trots wees op wat hy bereik het en op sy nederigheid, wat ’n goeie voorbeeld is vir die wêreldjeug.” - SAPA