Die wenner van die gesogte toekenning word ná dié naweek se laaste IRR-toernooi in Londen aangekondig. Buiten Kyle is Tim Mikkelson (Nieu-Seeland), Tom Mitchell (Engeland) en Samisoni Viriviri (Fiji) ook benoem.

Tom het die toekenning in 2013 ontvang. Die enigste Suid-Afrikaner wat al as sewesspeler van die jaar aangewys is, is Cecil Afrika in 2011.

Die nederige kaptein het ondersteuners op Twitter bedank vir hul gelukwense: “Dankie vir die boodskappe; ek voel geëerd om benoem te word saam met sulke talentvolle mense. Alle erkenning gaan aan my ongelooflike span!”

Hy is nie ’n groot aanhanger van sulke individuele toekennings nie, het Kyle aan Eyewitness News gesê. “Ek speel in ’n span wat die hele seisoen goed saam gespeel het, en sonder hulle sou ek niks kon regkry nie.”  Dus sien hy die benoeming eerder as ’n erkenning van die hele span se prestasies gedurende die seisoen.

Die Blitsbokke is tans tweede op die punteleer in die IRR-sewesreeks. Dit kom ná ’n goeie seisoen waarin hulle twee toernooie (Port Elizabeth en Las Vegas) kon wen en telkens een van die topvierspanne was. Nieu-Seeland is die voorlopers.

Die afgelope naweek se toernooi in Skotland was egter teleurstellend – die Blitsbokke het in die halfeindronde van die plaatkompetisie teen Kenia verloor. Kyle moes as gevolg van harsingskudding die toernooi misloop.

Die rustige blondekop het verlede jaar aan Huisgenoot gesê dat hy nie die kapteinskap as ’n las ervaar nie. “Ek was van ’n jong ouderdom af al kaptein van spanne waarin ek gespeel het,” verduidelik hy. “Ek probeer ’n rolmodel wees . Ek sou seker ’n inspirerende Braveheart-soort toespraak kon lewer, maar ek verkies om net my gang te gaan en die ander spelers so aan te spoor.”

Dit is duidelik dat hy dit regkry – die IRR-benoeming is ’n bewys daarvan.

-Suzaan Hauman

Ekstra bronne: ewn.co.za