Koningskind is eers van eerskomende Vrydag af op die rakke, maar aanhangers is so gretig om dié album in die hande te kry dat hulle dit reeds op iTunes bestel het. 

“Dit bly ’n lekker gevoel om ná soveel maande se harde werk die eindproduk in my hande te kan vashou. Ek weet hierdie musiek gaan baie harte raak, hoop gee, bemoedig en inspireer; daarom kan ek nie wag om dit met julle te deel nie!” het Juanita gister op haar Facebook-blad geskryf. 

Dit is haar eerste gospelalbum in ses jaar en bevat ’n lywige 18 snitte. Haar boodskap is: “Aan God al die eer. Mag julle in hierdie liedjies sy stem hoor, sy vertroostende arms voel en sy heilige teenwoordigheid beleef! Vlieg hoog en wees lig, want jy is ’n Koningskind!”