Bloemfontein se Justin Bieber, oftewel die 17-jarige Vicus Visser wat op YouTube raakgesien is, gee more sy eerste tree na roem. En hy neem sy broer saam met hom.

Huisgenoot het onlangs vertel hoe die wêreld van Vicus se sangtalent kennis geneem het nadat iemand ‘n stok-ou video waarop hy sing, op YouTube gelaai het.

Sedertdien is Vicus uitgenooi om by die Earth Hour konsert in die Orlando Stadion in Soweto sy groot openbare buiging te maak. En sy broer Vincent Visser (21) gaan saam met hom daar sing.

Die organiseerders verwag dat die broers in ‘n volgepakte stadion sal optree en agter die verhoog sal hulle met hul helde, die Bala-broers en die Soweto Gospel-koor, skouers skuur.

“Ek is so opgewonde! Ek gaan op die verhoog wees saam met mense wat al vir Grammy’s genomineer is en saam met beroemde Suid-Afrikaanse sangers. Dis my droom. Ek wens almal se loopbaan kon só afskop,” sê Vicus.

Vincent is ewe opgewonde.

“Ek is so geseënd. Toe Vicus se YouTube video so beroemd geraak het, het ek nooit kon droom dat ek saam met hom op hierdie reis sou gaan nie. Ons is passievol oor musiek en dit gaan baie opwindend wees om saam met my broer in ons eerste regte, egte konsert te sing,” sê hy.

Hulle ouers, Elsie en Fanie, sal ook in die stadion wees. “Ons wag al ons hele lewe vir so ‘n geleentheid en nou is dit hier.

Ons kan net God dank,” sê Elsie.

“Dit voel asof ons die eerste tree gee na ‘n geseënde lewe,” beaam Fanie.

Die seuns is in die goeie hande van die 5FM-omroeper en Idols-beoordelaar Gareth Cliff. Hy is bestuur hulle deesdae deur One on One Productions.

KLIK HIER vir die artikel wat in die Huisgenoot van 10 Maart 2011 verskyn het.