Die span, wat op die spoor van die eiendomsagent, Hanle Lategan (52) en die versekeringsmakelaars, Kevin McAlpine (29) en Anthony Scholefield (64) was, het ’n 29-jarige man in verband met die moorde Donderdagaand laat in Krugersdorp aangekeer.

Hy sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Krugersdorp verskyn.

Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, wat die inligting uitgereik het, sê in ’n verklaring die polisie werk dag en nag om die verdagtes op te spoor.

Nóg inhegtenisnames word verwag.

Hanle se lyk is Dinsdagoggend in ’n spruit in Randfontein deur ’n groep skoolkinders gekry nadat sy die vorige aand op pad na ’n afspraak vermis geraak het.

Kevin se lyk is verlede week Donderdag 26 Mei in Krugersdorp in die bagasiebak van sy motor gevind. Hy het ook verdwyn nadat hy ’n afspraak met ’n kliënt sou nakom.

Ook Anthony is onder soortgelyke omstandighede op pad na ’n kliënt in sy motor se bagasiebak in Krugersdorp aangetref. Sy lyk is 10 Mei gevind.

Maj.Genl. Anna Mateisi, ’n polisiebevelvoerder aan die Wes-Rand, het die span vir hul uitstekende werk geprys.

“Jul harde werk word raakgesien en die gemeenskap van Krugersdorp kan seker wees dié sake is bo aan die polisie se priorititeislys.”

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom. Mense kan die Crime Stop-nommer by 08600 of 10111 bel of ’n SMS na die misdaadlyn by 32211 stuur.