Die polisie het volgens berigte minstens 15 mense in hegtenis geneem in verband met die gewapende rooftog op Kim Kardashian in Oktober verlede jaar in die Franse hoofstad.

Die Keeping Up with the Kardashians-skoonheid is vasgebind en gemuilband terwyl gemaskerde diewe haar woonstel in Parys geplunder en juweliersware en elektroniese goedere gesteel het.  

Volgens die Franse webtuiste Europe 1 het Paryse polisiebeamptes wat die voorval ondersoek die verdagtes vanoggend om sesuur tegelykertyd in Parys aangekeer.

Die verdagtes kan vir tot 96 uur vir ondervraging aangehou word, voeg die webtuiste by.

Lees ook: Gewapende mans beroof Kim Kardashian van miljoene

Die nuus kom nadat Kim haar hart oopgemaak het oor die skrikwekkende beproewing. Dis te sien in die komende seisoen 13 van die familie se werklikheidsprogram op E!.

 

Terwyl sy teen die trane baklei, vertel ’n emosionele Kim vir haar susters Khloé en Kourtney van die vreesaanjaende aanval. Sy onthul ook sy het vas geglo sy sou in die woonstel sterf.

“Hulle gaan my in die rug skiet. Daar’s geen uitweg nie,” vertel sy van haar beangste gedagtes tydens die nagmerrie-voorval. “Dit ontstel my om daaraan te dink.”

Ná die gewapende rooftog het Kim en haar man, Kanye West, hul hooflyfwag, Pascal Duvier, in die pad gesteek toe hulle hul sekerheid opskerp.

Lees ook: Kim Kardashian dien ENORME versekeringseis in ná gewapende roof

Pascal werk van 2012 af vir Kanye en was sedert 2013 aan Kim se sy. Albei het sy raad oor sekuriteit en sy diens op prys gestel.

Nadat hy haar dae voor die rooftog in Parys beskerm het teen ’n poetsbakker wat haar boud wou knyp, het Kim die oppasser op sosiale media geprys deur hom ’n “G (gangster)” te noem.

Tydens die rooftog op Kim was Pascal elders in die stad om na haar susters Kourtney en Kendall Jenner om te sien terwyl hulle ’n aandjie uit geniet.

“Pascal en ’n paar ander lede van hul sekerheidspan is onlangs deur Kim en Kanye laat loop,” het ’n bron aan Entertainment Tonight gesê. “Dis in die geheel ’n baie moeilike situasie en hulle is lief vir Pascal, maar hulle kon nie meer kanse waag nie.”

– Cover Media