[caption id="attachment_167417" align="alignnone" width="600"]Foto: Reuters/Gallo Images Foto: Reuters/Gallo Images[/caption]

“Die kantoor van die ANC-hoofsweep bevestig die bedanking van die voormalige adjunkminister van finansies en die ANC-LP, Mcebisi Jonas, as parlementslid op 31 Maart 2017,” het Nonceba Mhlauli, woordvoerder van die ANC-hoofsweep, Donderdagoggend in ’n verklaring gesê.

“Comrade Jonas het gedien as adjunkminister en parlementslid met onderskeiding en toewyding. Hy het ook die beweging en Suid-Afrikaners in verskeie hoedanighede oor die jare gedien. Ons wil namens die ANC in die parlement vir comrade Jonas bedank vir sy onbaatsugtige diens aan die beweging as openbare verteenwoordiger. Ons is vol vertroue dat hy sal aanhou om die land en ons beweging in ander hoedanighede in die toekoms sal dien. Ons wens hom sterkte toe.”

Mcebisi se bedanking kom kort ná dié van die voormalgie minister van vervoer, Dipuo Peters. Die parlement het Woensdag haar bedanking as ANC-LP bevestig.

Pres. Jacob Zuma het Dipuo, Mcebisi en Pravin Gordhan, voorheen minister van finansies, tydens sy kabinetskommeling verlede Donderdagaand die trekpas gegee. Pres. Zuma het 10 nuwe ministers en 10 nuwe adjunkministers aangestel.

Die ANC-hoofsweep Jackson Mthembu het gesê die enigste misdaad wat Pravin en Mcebisi gepleeg het, was dat hulle onkreukbaar was.

Hulle sou as gewone LP’s terugkeer.

Nonceba het Woensdag aan News24 gesê Dipuo se bedanking tree vanaf 31 Maart in werking.

Jackson het Dipuo sterkte met haar toekomsplanne toegewens.

“Comrade Peters het die beweging en Suid-Afrikaners in verskeie hoedanighede oor die jare met onderskeiding gedien. Ons wil namens die ANC in die parlement vir comrade Peters bedank vir haar onbaatsugtige diens en toewyding aan die beweging as openbare verteenwoordiger.”

Bron: News24