Let asseblief daarop dat hierdie artikel foto’s bevat wat sensitiewe kykers kan ontstel.

“Die gemeenskap het kapsie gemaak. Hulle kon nie verstaan waarom ons hulle (die tiere) wegneem van die tempel af as hulle so vreedsaam en goed lyk by die tempel nie, het Teoenjai Nootsjdoemrong, direkteur van Thailand se natuurlewebewaringskantoor, gesê.

“Ons het met hulle probeer praat en vir hulle verduidelik die tiere behoort aan die land.”

Die oorskot van die welpies is in ’n vrieskas gevind wat gebruik word om kos vir die tiere te bewaar – tesame met die karkas van ’n bintoerong,’n beskermde spesie wat in die algemeen bekendstaan as ’n beerkat, asook verskeie dierehorings. Die tempel word lank reeds verdink van smokkelaktiwiteite met wild.

“Die tempel het nooit hierdie dooie welpies geregistreer nie; hulle is onwettig,” het Adisorn Noetsjdamrong, waarnemende direkteur-generaal van Thailand se natuurlewedepartement, gesê.

Die Boeddhistetempel Wat Pa Loeangta Boea Janasampanno, ook bekend as die Tiertempel, het algaande ’n gewilde toeristebestemming geword.

“Hordes besoekers stroom daarheen en is gretig om selfies te neem saam met die tierwelpies wat met die bottel gevoed word. Die tempel adverteer homself as natuurlewereservaat, maar aangesien onwettige dierehandel besig is om in Thailand toe te neem, het die owerhede die reservaat onlangs van onwettige aktiwiteite begin verdink.”

Lees ook: Kyk die vreesaanjaende oomblik toe wilde olifant Arnold Schwarzenegger op safari in SA ‘bestorm’

Edwin Wiek, hoof van die Vriende van die Natuurlewe-stigting in Thailand, het bevestig die ontdekking van die karkasse beteken die klopjag was nie vergeefs nie.

“Kragtens die Cites-verdrag (Convention on International Trade in Endangered Species) mag geen wildplaas of -reservaat betrokke wees by die teel van beskermde spesies nie,” het hy gesê.

“Hierdie diere is geteel en weggesteek. Ek dink hulle is bewaar sodat hul liggaamsdele op die swartmark verkoop kan word.”

Nadat bewerings van handeldryf met wilde diere die rondte begin doen het, het die owerhede vroeër vandeesweek met hul klopjag op die tempel begin in ’n poging om al 137 tiere uit die Tiertempel te verwyder.

Sedertdien is berig dat 52 lewende tiere verdoof en uit die tempel verwyder is.

Die tempel en die monnike het enige bewerings van onverantwoordelike teelprogramme, dierehandel en dieremishandeling ontken.

Thailand is lankal ’n middelpunt van onwettige handel in wild. Eksotiese voëls, soogdiere en reptiele (baie van hulle is bedreigde spesies) word dikwels op plaaslike markte te koop aangebied.

Bronne: Aljazeera.com, guardian.com, reuters.com

Lees ook op Huisgenoot.com:

Vermiste Japannese seuntjie wat as straf langs pad afgelaai is, gevind

‘Ek is glad nie bang nie, tannie’: Jong kankerlyer staak behandeling en stel vertroue in geloof

Is hierdie dalk Bobby se grootste aanhanger?

Jy sal nie glo hoekom kannetjie sy pa by die polisie aangekla het nie!

Wanhopige ma se geskenk vir haar siek kind gaan jou hart breek