Hy is effektief tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die regter het hom as volg gevinnis (let wel - alle vonnisse sal gelyklopend uitgedien word): 12 jaar vir verkragting, 4 jaar vir regsverydeling en 20 jaar vir elke moord. Vonnis word terugdateer na 14 Maart 2014.

Die regter het onder meer in sy vonnisoplegging gesê dat hy tevrede is dat die seun nie onder die invloed van ander persone opgetree het nie.

Die minderjarige seun is op 27 Maart skuldig bevind op aanklagte van regsverydeling, asook die moorde op Deon (44) en Christel (43) Steenkamp en die moord en verkragting van hul 14-jarige dogter, Marthella.

Die moorde is op 6 April 2012 op Goeie Vrydag op hul plaas Naauwhoek gepleeg.

Verskeie familielede, onder andere die seun se voog en ouma, was ook by die vonnisoplegging.

Die vonnisoplegging het twee dae voor sy 18de verjaardag gebeur.

Hy sal egter outomaties reg tot appèl ontvang aangesien hy minderjarig is en hoef dus nie eers aansoek te doen om verlof tot appèl nie.

Van daar kan hy dan appelleer teen sy skuldigbevinding én vonnis.

Hier is Volksblad se tydlyn van hoe die gebeure ontvou het sedert Goeie Vrydag 2012.

Bronne: Twitter, Volksblad