So het die aanklaer Hannes Cloete aangevoer tydens sy kruisondervraging van Eon Sonnekus, ’n psigiater wat spesialiseer in jeugdiges.

“Een van die redes waarom hy so goed met vriende, familie en voogde kan sosialiseer, is omdat hy nie gekonfronteer is met wat daardie aand gebeur het nie. Is dit korrek?” het Hannes gevra.

Regter-president Frans Kgomo het getuienis aangehoor in die vonnisoplegging van die 17-jarige nadat hy aan drie moorde skuldig bevind is.

Die seun is skuldig bevind aan die moord op die boer Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14). Hulle is op 6 April 2012 doodgeskiet op hul plaas, Naauwhoek.

Die seun is ook skuldig bevind aan Marthella se verkragting en dat hy vir die polisie gejok het.

Eon het Woensdag toegegee dat die seun dalk ligtelik daarvan afgekom het, maar het gesê hy twyfel of ’n konfronterende benadering die beste uitweg is.

Hannes wou weet: “Beteken dit hy kan maklik goed aanpas in ’n positiewe omgewing waarin hy nie gekonfronteer word nie? Vertel ons, jy is die kenner.”

Eon het gesê dis wel die geval.

Hannes het Eon se getuienis oor die seun bevraagteken; hy het getuig dat die seun meisies hoflik behandel het.

Hy het BlackBerry-boodskappe tussen die seun en ’n meisie aangehaal waarin hy beledigende en kru taal gebruik.

Die seun het in die boodskappe die meisie vertel dat sy hom lastig val en irriteer. Die moordenaar se boodskappe het vloekwoorde bevat.

“Dis die seun se woorde, sy gedagtes en sy houding teenoor ’n meisie. Dis beledigend en onaanvaarbaar,” het Hannes gesê.

Eon het saamgestem en gesê dit blyk die twee het ’n rusie gehad.

Hy het gesê dis moeilik om die boodskappe te verduidelik omdat hy nie weet wat vooraf tussen die twee jong mense gebeur het nie.

Die verhoor duur voort.

- Sapa