DIE laatmiddagson brand neer hier in die boswêreld buite Potchefstroom. In ’n siersteen-kapel in die skadu van reuse wilgerbome staan die Cheetah- en Griekwa- losskakel Naas Olivier (28) geduldig en wag – sy is al ’n halfuur laat, en die horlosie tik, tik, tik.

Joanita Holtzkamp (30) het ’n Audi 1000S Coupé van 1963 as bruidsmotor gekies – en toe gaan staan die ding met bruid en al langs die R501 tussen Potchefstroom en Carletonville . . .

Sulke teëspoed sou die meeste bruide tot trane gedryf het, maar Joanita was nie van plan om toe te laat dat so iets haar dag bederf nie. ‘‘Ek het my trourok opgetel en my duim in die lug gehou,’’ skerts sy terwyl sy grasieus buite die kapel uit die nuwe bruidsmotor klim – ’n wit Mazda 3. ‘‘Gelukkig het ’n lid van my bruidsgevolg net ’n entjie agter ons gery en toe stilgehou.’’

Die troumars begin eindelik speel. Naas glimlag vlugtig vir sy broer en strooijonker, John-Henry (26), en loer deur se kant toe . Toe Joanita by die kapel instap, verbrokkel sy koel houding en ’n breë glimlag spoel oor sy gesig. En ja, ’n enkele traan loop oor sy wang.

Joanita se pa, past. Charlie Holtzkamp, stap saam met sy dogter in die paadjie af en oorhandig haar met ’n ferm handdruk aan Naas.

Die twee kan skaars hul opgewondenheid beteuel toe die huweliksplegtigheid einde se kant toe staan. Hulle ruil ringe uit, en oomblikke later juig die 120 gaste verheug toe Charlie vir Naas en Joanita nooi om mekaar vir die eerste keer as mnr. en mev. Olivier te soen...

Lees die volledige artikel en sien meer foto's in die Huisgenoot van 6 Januarie 2010