Die verhoudingskenner en gewilde spreker Gretha Wiid se agtjarige dogter, Ghitte, het Saterdagaand van ? drie meter hoë muur af geval. Die voorval het by vakansiewoonstelle in Margate plaasgevind.

Volgens Netcare 911 het Ghitte na bewering saam met vriende op die muur gesit toe sy geval het. Paramedici het haar op die toneel gestabiliseer voor sy na ? nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere behandeling. Gretha het op Facebook geskryf dat Ghitte se kop eerste die plaveisel getref het toe sy geval het.

'’n Absolute wonderwerk!'

“’n Absolute wonderwerk! Dis wat die dokter gisteraand by ongevalle gesê het met my dogtertjie, Ghitte, se opname. En die paramedikus skud sy kop en sê dat ons regtig gelukkig is – dit kon ‘n aand gewees het wat ons hele lewe verander het.”

Volgens Gretha blyk dit dat Ghitte nie bloeding op die brein het nie en ook niks gebreek het nie. “Sjoe, dit kon soveel anders gewees het. Ek loof God saam met my gesin en klein Ghitte – nie net vir Sy getrouheid en beskerming gisteraand nie, maar ook vir die wonderlike ambulans-personeel en personeel by die hospitaal.”