Huisgenoot gee nou vir Gretha 'n kans om te reageer op al die kommentaar op ons artikel, Gretha Wiid se streng seksgebooie.

Bespreek vir Skouspel!

Hallo julle almal, Gretha Wiid hier.

Gedink ek wil ‘n paar dinge in perspektief stel. In die eerste plek dink ek dis belangrik om te verstaan dat geen artikel ooit enige iemand se persepsies en oortuigings volledig kan weerspieël nie.

En om iemand se hart net ten dele te hoor of te ken, beteken dat jy met ‘n halwe prentjie sit oor iemand.

Joernalistiek is ook meestal subjektief en skryfwerk word nou maar eenmaal gefilter deur die joernalis se eie persepsies en oortuiginge. Die blote feit dat die opskrif verwys na seksgebooie plant reeds die gedagte en persepsie by die leser dat dit my reëls is, en dat ek daarmee die septer wil swaai. Is dit hoe Huisgenoot my sien?

Ek glo dat baie van julle sou verkies om te dink dat ek reageer omdat ek myself wil verdedig, of om mense (soos julle) te probeer oortuig. Dit is nie wat leef in my hart nie. Huisgenoot het egter my opinie gevra. My opinie, dis al. ‘n Opinie wat ek graag wil toets aan dit wat ek glo waar is… God se Woord.

As kerk (liggaam van Christus) het ons so lou geword.

Moslems blaas plekke en mense op vir hulle geloof. Hulle staan op in skole as hulle geloof teenkanting kry.

Ons christene kyk anderpad. Ons wil God net volg solank ons niks moet opoffer nie. Ons wil glo dat ons kerke ons kan red, dat ons predikers se woord die begin en die einde van openbaring en die volle waarheid is. Ons wil God ken, maar Hom nie dien nie. Ons wil kerk-kerk speel, en elke Sondag ‘n quick-fix of ‘n spike vir die week kry.

Maar om die braaivleisvuur met drank en vuil grappe word God opsy geskuif – Hy wil mos hê dat ons die lewe moet geniet, reg? Ons sê elke mens sleg wat durf iets aanhaal uit God se Woord wat ons dalk aanvat of konfronteer – ons verdoem hulle as arrogant en as valse profete.

Doen asb die moeite om ten minste 2 Tim. 4: 1-5 te gaan lees. Daar lees ons dat daar ‘n tyd sal kom dat mense net wil luister na dinge wat hulle nie konfronteer of aanvat nie. ‘n Gemaksone waar ons glo dat ons almal eintlik okay en gered is net omdat ons sê dat ons christene is of aan ‘n kerk behoort.

As jy ‘n kind van die Here is – nie ‘n geheime agent vir die koninkryk nie – dan is dit ook jóú plig om te staan by God se Woord. En as iemand jou vra wat reg is volgens God, mag jy mos geen ander lering as die Woord as antwoord gee nie. God sê hoeka dat ‘n fontein nie vars én brak water kan gee nie. Is jy vars of brak? Warm of koud?

Kies dan vandag weer, en staan daarby – in publiek, in jou kamer, tussen jou eie mense, tussen vreemdes. En hou daarby – selfs al word jy uitgekryt en sleggesê. Dis die minste wat ons kan doen om Jesus te eer vir die lyding wat Hy vir ons moes deurgaan. Ons vlees moet neergelê word, sodat ons gees kan lewe!

Ons is so vinnig om te verkondig (en te verdedig) dat ons nie mag oordeel nie. Natuurlik mag ons nie ménse oordeel nie, maar ons mag die vrug wat ons dra meet aan wat God sê.

Jesus self het vir die prostituut se menswees opgekom deur haar omstanders uit te daag om die eerste klip te gooi as hulle nie self sonde het nie. Net daarna het Hy egter aan haar gesê om te gaan, en nie meer vol te hou met daardie sonde nie. Jesus het nie die mens geoordeel nie, maar die sonde wel. En wie is ek om te sê wat sonde is en wat nie? Die Woord is my riglyn.

Daarmee saam oordeel ek nie die sonde van enigiemand nie – net God is by magte om dit te doen. Maar as ek gevrá word wat ek dink reg en verkeerd is in God se oë, is die Woord my grondslag. So sal Hy ook my sonde oordeel – waarvan daar steeds baie is! Maar as kind van die Here kán ek nie, en mág ek nie stilbly oor wat God se Woord sê net omdat ek mense se teenkanting vrees nie – spesifiek nie wanneer ek in die openbare arena gevra word om my opinie nie.

Jesus Christus is Koning en sy Woord staan bo ALLES! Maak die Woord altyd vir ons sin? Nee! Is dit vir ons menslike verstand altyd duidelik waarom God sekere dinge as sonde uitwys? Ook nie. Solank ons op aarde is sal ons net net dele ken, onthou julle? En slim redenasies kan ook nie die Waarheid uitrafel nie.

Die Woord self leer ons so in 1 Kor. 1:18-31. Die Woord leer ons dat God se gedagtes vêr bo ons gedagtes is. ons koppe en ons vlees sal nooit volle sin maak daaruit nie. dit sal vir altyd ‘n stryd wees tussen gees en vlees – dit wat ons wíl, en dit wat ons móét!

So baie van julle het vrae gehad oor dinge soos masturbasie. Ek lees wat God sê oor vleeslike begeertes en drange - nie ‘n Gretha Wiid opinie nie, ‘n Woord waarheid - (Rom. 8:5, Kol.3:5, Gal.5:19, 2 Pet.2:10, 1 Joh.2:16, ens.), en begeer om my lewe daarvolgens in te rig. Nie koekerig en verkramp ten opsigte van die seksuele nie – maar bevry, vol pret en avontuur, maar binne God se raamwerk.

Vir die dames wat glo dat my man ‘n buite-egtelike verhouding gehad het agv ‘n onbevredigende sekslewe saam met my – jy’s geregtig om so te dink.

Ek is oortuig dat ek steeds baie het om te leer. Ek het egter reeds geleer dat mans nie noodwendig rondloop weens ‘n gebrek aan seks by die huis nie, maar meer as dikwels eerder weens ‘n soeke na erkenning van sy manwees, onopgeloste seer uit die verlede en ‘n soeke om identiteit te bevestig.

Daar is so baie vrouens wat seer het omdat hulle altyd moet hoor dat hulle mans rondgeloop het agv van hulle ontoereikendheid of kwansuise onvermoë. Dis nie noodwendig waar nie.

My eie man het lank gesoek na die maatstaf van sukses, die finale kriteria van ‘being man enough’. So baie mans wil hulle manwees probeer bewys met geld, karre, mag in die besigheidswêreld, gesag in die huis, alkohol, pornografie….ag, noem dit.

Hulle vroue kan mooi, sexy, smeulend en baie vaardig wees as dit seks kom, dan sal die man se soeke en leemte steeds nie gevul wees nie.Francois is nie skaam om oor sy verlede en sy foute te praat nie, want God het hom kom heelmaak. Sy identiteit is geleë in sy Vader. Punt! Natuurlik het ek ‘n stewige bydrae daartoe gehad dat my man iemand anders se arms opgesoek het.

Ek het vir my kinders geleef en hom emosioneel afgeskeep. Elke mens soek tog erkenning, waardering en bewondering by sy/haar maat? Ek het dit nie aan hom gegee nie. Seks wel – maar nie bewondering nie, nie respek vir sy mens- en manwees nie. En dít is my en Francois se boodskap: ons moet na mekaar kyk – almal van ons in verhoudinge.

Ons leef so maklik by mekaar verby, praat by mekaar verby en groei op die ou end weg van mekaar. Geen seks in die wêreld kan so iets red nie. Spr. 27:7 sê dat selfs ‘n bitter eetding lekker sal wees vir iemand wat werklik honger is.

Baie vroue knoop aanlyn verhoudinge aan, sms-verhoudinge met kollegas, intieme geselsies met manne by die werk – bloot omdat hulle by daardie persoon waardevol, belangrik, mooi, interessant, en gewaardeerd voel. En dan drink hulle maklik die beker van bitter water – net om hulle harte se dors te les. Owerspel gaan allermins altyd oor seks…inteendeel. Dis die dinge wat ons harte en menswees voed wat ons bymekaar hou, nie seks nie.

Ek hoop dat julle my hart sal raaklees hierin – ‘n hart wat graag vir alle mense liefde en tyd wil hê, maar allereers, ‘n hart wat gebind is aan die hart van God. Jy kan kies om dit te beskou as ‘n opinie, of actually jou Bybel optel en sélf vir die antwoord gaan soek. Party van julle soek bewyse? Waar is die bewyse van jóú antwoorde uit die Woord?

The only thing evil needs to prosper, is for good men to do nothing and fear the onslaught of people. Compromise God se Woord, en jy compromise jou eie blessing!

Let wel, dat hierdie skrywe van Gretha Wiid geensins deur Huisgenoot geredigeer is nie. Dit is deur Gretha alleen saamgestel en reflekteer nie noodwendig Huisgenoot se standpunt nie.