’n Nuwe voorbehoedmiddel gaan binnekort vir Suid-Afrikaanse vroue beskikbaar wees. Die toestel word onder die vel van die bo-arm geplaas en kan tot drie jaar hou.

Gesinsbeplanning kan ’n moeilike affêre word as jy in ’n verhouding is met ’n man wat nie daarin glo nie. Dit kan ook problematies wees as jy vergeetagtig is en geneig is om ’n pil oor te slaan, of as jy bang is vir naalde.

Gelukkig gaan dit binnekort iets van die verlede wees. As deel van die grootste gesinsbeplanningsprogram in Suid-Afrikaanse geskiedenis gaan ’n nuwe voorbehoedmiddel binnekort beskikbaar wees vir alle vroue in die land, sê die gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi.

Die toestel, wie se uitwerking byna onmiddellik ná verwydering verdwyn (wat dit makliker maak om agterna swanger te raak), gaan teen middel vanjaar gratis by alle staatshospitale en -klinieke beskikbaar wees. Maar jy kan na verwagting sowat R1 700 by ’n privaat mediese praktyk daarvoor betaal.

- Koketso Mashika