Sapiro sit in ’n swart T-hemp waarop ’n stortkop geteken is. Sy vingers gly oor ’n wit bladsy, en voor jy kan sê Zuma, skep hy sy alombekende karikatuur van die president. ’n Stortkop groei uit die Zuma-karaktertjie se kop terwyl die omstrede spotprenttekenaar Jonathan Shapiro vertel van sy liefde vir teken. Nou nog net . . . daar’s hy, die masjiengeweer is in die handjies.

So begin Political Satire, die program wat die SAUK nie aan sy kykers wil wys nie. In die afgelope maande het pres. Jacob Zuma dit duidelik gemaak hy laat nie met hom spot nie deur links en regs lastereise teen satirici en koerante in te stel. ’n Britse koerant het hom vroeër vanjaar R1,3 miljoen aangebied nadat hy glo in ’n berig belaster is. En in oën-skynlike gedienstigheid het die SAUK besluit om nie die president en die ANC te ontstel nie.

Ook Julius Malema, die ANC-jeugligaleier, het gewys hy’s kleinserig toe Nando’s ’n satiriese advertensie oor hom gemaak het. Nando’s is na die ANC-hoofkantoor ontbied en met ‘‘militante’’ optrede gedreig.Dis oor dié oënskynlike liggeraaktheid in ANC-geledere dat die Special Assign-ment-program gaan – die een wat die SAUK nou ’n tweede keer besluit het ons mag nie sien nie.

Wat Huisgenoot laat wonder het: Presies wat is dit wat te erg sou wees vir openbare oë? Toe gaan kyk ons.Maar ons moet beken: Ons is nog nie veel wyser nie . . .

Dalk is die taai toffie die insetsel waar ’n kaal Zuma-dubbelganger in die stort dans op die maat van Brenda Fassie se Weekend Special. Dié ge-waagde materiaal kom uit die advertensie vir Zuma Shower Gel, ’n produk van die vreeslose satirikus Justin Nurse se maatskappy Laugh It Off (LiO) en die onderneming Aromatic Apothecary, wat nou landwyd te koop is.

‘‘My senuwees het begin knaag toe ek hoor die SAUK het die uitsending weer uitgestel,’’ vertel Justin. “Ek is amper seker dit is hoekom hulle dit teruggehou het. Die kwessie is glad nie so eenvoudig soos dat die SAUK teen satire is nie.’’