AS HY ’n bankrower was, sou hy sy pad tot in die hoofkluis kon ooppraat; as hy ’n verkoopsman was, sou hy jou eie ma aan jou kon verkwansel. Hy is die oorspronklike gladdebek – immer reg met die heuningkwas om jou by sy planne te laat inpas.

Trevor Noah sal enige vrou met sy sjarme kan oorrompel; maak jou net reg om Job se geduld te hê met dié man. Hy’s aantreklik, ja, maar niemand sal hom van stiptelikheid beskuldig nie. En die oomblik wanneer jy in die sjokoladebruin oë wil wegsink – so sê die mense wat weet – tel hy sy foon op om ’n vriend te bel.

Dié  TV-aanbieder en komediant kan minstens drie gesprekke gelyk voer, dink niks daarvan om jou ’n uur vir ’n afspraak te laat wag nie en skroom nie om geleenthede mis te loop nie, al het hy beloof hy sal daar wees.

So was dit ook onlangs met ons sustertydskrif se glansgeleentheid, YOU Spectacular: Trevor is as die gewildste glansman aangewys, maar hy was toe nie daar om sy prys te ontvang nie, al het hy belowe hy kom. “Ek moes Londen toe gaan vir ’n vergadering oor ’n nuwe dokumentêr oor komedie in Suid-Afrika,” is al wat hy ter verskoning aanbied.

Maar jy vergewe hom, want hy’s oulik, en talentvol. Sug . . .

En nou het dié vermaak-ou ewe skielik meteoriese opgang in die sakewêreld van alle plekke gemaak – hy is pas aangewys as “ceo” van Cell C. Maar in dié geval is dit nie die gewone chief executive officer nie, maar customer experience officer, ’n pos wat die grapjas met die vlymskerp tong soos ’n handskoen pas.

Dit is nou Trevor se werk om te sorg dat Cell C se klante gehoor word wanneer die netwerk hulle in die steek laat, nadat hy self vroeër die netwerk behoorlik oor hul slapheid afgeransel het. Maar die Trevor-advertensies het skaars in die media verskyn of ’n herrie bars los: Was die hele ding nie alles ’n slim set nie? Trevor en Cell C ontken dit natuurlik, maar hoe ook dan anders?

Intussen erken hy hy word ’n kleinhuisie vol geld betaal om die gesig te wees van die onderneming wat hy kamma tevore so goed sleggesê het. Genoeg om ’n huis of ’n motor te koop? Hy giggel. “Dit hang af van watter motor en huis jy praat. Maar ek sal jou dit sê: Dis genoeg om drie Magnum-roomyse en ’n Red Bull te koop.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 19 Augustus 2010.