Vra enigeen wat betrokke was by die verfilming van die dramaprent Modder en Bloed en hulle waarsku jou: kolonel Swannell is ’n aaklige ou.

Hy martel, skiet en het ’n onblusbare haat vir die Afrikaner. En boonop staan die Engelse konsentrasiekamp onder sy tirannieke beheer.

Dis ’n groot verrassing as ’n mens uitvind Grant Swanby, die gesig agter dié omstrede karakter, is eintlik ’n besonder aangename mens.

“Ek is happy go lucky, terwyl my karakter een van my grootste nagmerries is,” het hy die naweek by die pre-première langtafel-ete van Modder en Bloed by Askari Game Lodge & Spa verklap. Maar al is hy glad nie soos kolonel Swanell nie, was dit vir hom lekker om aan so donker karakter lewe te gee.

“Dis definitief nie vervelig om so ’n aaklige ou te speel nie.” Vir hom was dit belangrik om die karakter so eg as moontlik te vertolk.

“Die slegte ou moet die spanningslyn regdeur die fliek volhou, want as hy afwyk sal die storie vou.”

Hy waarsku die venyn teenoor hom gaan veral optel as rolprentgangers sien hoe hy die gewilde sanger Bok van Blerk se karakter aanvat.

Lees ook: Ontmoet Modder en Bloed se karakters: Bok van Blerk as kmdt. Scheepers

“Die vervaardiger, Llewelynn Greeff, sê ek moet eerder nie alleen in Pretoria rondloop nie. Mense mag my dalk net op straat takel.”

Maar hoe gaan soek hy vir daardie donker karakter?

“Dis soos om gedurende Kerstyd ’n kind te wees met klomp geskenke om jou en jy enigiemand se geskenk kan oopmaak. Daar is net geen reëls nie.”

Grant se vrou, die veelbekroonde aktrise, skrywer en regisseur Nicola Hanekom, vertolk ook gereeld die rol van ’n karakter wat almal so lief het om te haat.

“Ons sal maar body guards moet aanskaf,” skerts hy. “Dit het net toevallig so uitgewerk, want ons is eintlik baie gemaklike mense."

Sy het haar rol (die agterbakse Cheri-Lee Gouws) in Binnelanders so goed vertolk dat ek dink mense dit moeilik gevind het om die persoon en akteur van mekaar te skei.

Hulle is vier jaar getroud, maar al tien jaar ’n paartjie.

“Ons oefen altyd ons woorde saam. Ek het nie ’n oudisie vir Modder en Bloed afgelê nie, maar ’n selftape ingestuur wat sy geskiet het.”

Toe die verfilming begin het sy ure en ure saam met hom aan sy karakter gewerk.

“Ons komplimenteer mekaar baie goed. Die een vul die ander een se swakpunte aan. Ons maak regtig ’n fantastiese span.”

As die akteurspaar tyd af het, maak hulle graag groentetuin by hulle woning in Kaapstad.

Lees ook: Ontmoet Modder en Bloed se karakters: Charlotte Salt as Katherine Sterndale

“Ek het twee dae terug twee bakke vol wortels uitgetrek,” sê hy trots. “Ons het ook ’n plaashuisie in Ladismith in die Klein Karoo waar ons mense help met die vestiging van ’n permaculture (’n selfsorgkultuur).”

Hy gaan juis nou vir ’n maand daarheen om self verder aan hulle huisie te bou, terwyl Nicola net om die draai in teaterstukke by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gaan wees.

Grant is ook later in 2016 te sien in die rolprente Finders Keepers en Beyond the River.

*Modder en Bloed begin op 1 April in teaters draai.

- Marisa Fockema

Nóg oor Modder en Bloed:

Ontmoet Modder en Bloed se karakters: Patrick Connolly as Finn Kelly

Ontmoet Modder en Bloed se karakters: Edwin van der Walt as Marius Prinsloo

EKSKLUSIEF: Modder en Bloed se amptelike lokprent is hier!

Van mannegroep tot regisseurstoel: Sean Else gesels oor sy nuwe rolprent Modder en Bloed

Vars aanslag op die Anglo-Boereoorlog binnekort in nuwe Afrikaanse rolprent te sien