In 'n video wat Dinsdag op YouTube verskyn het en reeds die internet aan't gons het, word die afgryslike oomblik toe ’n vrou in Johannesburg deur ’n voortsnellende bakkie getref word, uitgebeeld.

Die voorval het luidens berigte in Newlands, Johannesburg plaasgevind. Twee vroue stap houtgerus by die voetoorgang oor die pad. Binne ’n breukgedeelte van ’n sekonde skuif ’n wit bakkie, wat teen aansienlike spoed die hoek betreklik fyn sny, om die draai. Een van die twee vroue word deur die bakkie getref.

Op die beeldmateriaal kan duidelik gesien word dat die twee byna reeds die veiligheid van die sypaadjie bereik het toe hulle bewus raak van die gevaar. Hulle begin hardloop, maar die skerp hoek waarteen die bakkie om die draai gekom het, het enige ontsnapkans bykans onmoontlik gemaak.

Die ongelukkige slagoffer word vir enkele meters saamgesleep nadat sy deur die neus van die bakkie getref word. Daarna beland sy voor die voortsnellende bakkie se linkervoorwiel. Dit lyk asof die bakkie bo-oor haar ry.

Verslae ooggetuies se uiteenlopende reaksies vertel die grusaamheid van die oomblik. Talle storm nader om te help, terwyl ’n paar in die agtergrond hul hande in die lug gooi en absoluut geskok voorkom. Terwyl hul stadig tot verhaal kom, begin een van die omstanders om die ongelukkige vrou se besittings wat gestrooi in die pad lê, bymekaar te maak.

WAARSKUWING: DIE GRAFIESE VIDEO MAG SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL.

Die ongeluk het op 15 November om 13:55 op die hoek van Breë- en Gerard Sekoto-straat plaasgevind. Mense word versoek om die naaste polisiestasie te kontak sou hulle die bakkie herken.

Veilgheidswenke vir voetgangers

Gebruik aangewese voetoorgange waar moontlik.

Gehoorsaam verkeerseine wat sal aandui of dit veilig is om die pad oor te steek aldan nie.

Kyk regs, links en weer regs voordat die pad oorgesteek word.

Maak seker alle bane is veilig voor jy die pad oorsteek. Moenie aanvaar dat motoriste in ’n ander baan jou sal raaksien nie.

Moenie oorfone dra of op jou selfoon praat terwyl jy ’n pad oorsteek nie.