Dit bly 'n tevergeefse stryd om motoriste te ontmoedig om hul selfone te gebruik terwyl hulle bestuur, ongeag hoeveel noodlottige ongelukke of noue ontkomings dit tot gevolg kan hê.

Maar dis nie net praterige motoriste wat 'n gevaar op pad kan inhou nie.

Hoeveel keer moes jy al rem aanslaan of óm 'n voetganger ry wat houtgerus op 'n selfoon doenig is en reg voor jou motor inloop? Oorfone stewig op die ore met musiek of wat ookal in daardie stadium van belang is vir die voetganger, oorheers geheel en al die basiese beginsels van padveiligheid. Selfoonspeletjies is nie speletjies as jy in die pad loop nie! In dié grafiese video kan gesien word hoe 'n vrou op 'n reënerige aand die pad oorsteek, geheel en al in haar eie wêreld met wat op haar selfoon gebeur. Dit kom voor asof die aankomende motor effe uitswaai, maar dis nie genoeg nie. Die vrou trek deur die lug en skuif vir meters oor die nat oppervlakte. Die bestuurder van die motor verkeer in aanhouding. Volgens die beelmateriaal verkeer die vrou in die hospitaal.

Die hoeveelheid ongelukke as gevolg van selfoongebruikers wat padveiligheidsreëls verontagsaam, neem toe.

In Fort Lee, New Jersey word jy nie net vir straatgansery (jaywalking) beboet nie, maar jy kan van 2012 reeds met $85 (ongeveer R1 200) beboet word as jy gevang word dat jy teksboodskappe stuur terwyl jy loop.

Die polisiehoof, Thomas Ripoli, het destyds gesê was in 2011 reeds 74 ongelukke waarby voetgangers en hul selfone betrokke was.

In 2016 het die boete verander na $50 (net meer as R700), maar die kans op 15 dae in die tjoekie het bygekom. Pamela Lampitt het hierdie wet deurgevoer en dit staan heel gepas bekend as die "distracted walking"-wet.

Twee professors verbonde aan die Stony Brook-universiteit in New York het boonop 'n studie gedoen wat daarop dui dat voetgangers wat teks 'n 60%-hoër risiko toon om uit hul "wandelbaan" te beweeg as diegene wat nie met hul selfone doenig is nie.

Dr. Dietrich Jehle, 'n professor aan die Universiteit van Buffalo in New York, het aangedui dat mense wat teks en loop nog gevaarliker is as diegene wat loop en op hul selfone praat.

"Die selfoon trek jou aandag af. Die gevaar wanneer jy teks is dat jy glad nie die pad voor jou sien nie."

Die toename van 4% in voetgangersterftes in Amerika val saam met wetgewing wat fietsryers en voetgangers gaan takel. Daar is reeds 'n wet in Hawaii voorgelê wat iemand 'n boete van $250 (sowat R3 500) op die hals sal haal as hy betrap word sou hy 'n elektroniese apparaat (soos 'n selfoon) gebruik terwyl die straat oorgesteek word. Die wet moet nog bekragtig word.

Arkansas, Illinois, Nevada en New York het die wetgewing voorlopig opsy geskuif.

In 2014 het statistiek getoon eat 78% van voetgangerbeserings daaraan te wyte is dat die voetgangers hul selfone gebruik het terwyl hulle geloop het. Beenbreuke, verstuitings en harsinskudding tel onder die algemeenste beserings wat so opgedoen is.

Met die PokémonGo-kultuur het afwesige voetgangers net nog 'n groter nagmerrie geword. Só het 'n tiener van Wyoming bo-oor 'n lyk gestruikel terwyl sy opsoek was na Pokémon-karakters. En dis maar net een van talle nagmerrie-stories.

Bronne: nydaily.com, theguardian.com, huffingtonpost.com, healthline.com