In dié ontstellende video kan gesien word hoe die pragtige bruid en haar broer, uitgedos vir die troue, agterin die Robertson 44-helikopter sit.

Die bruid is Rosemere do Nascimento Silva (32) van São Paulo in Brasilië en sy is op pad om met Udirley Damasceno (32) te trou. Haar broer, Silvano Nascimento da Silva, lyk onrustig en kyk gereeld rond. Rosemere hou aan sy arm vas.

Die troufotograaf, Nayla Cristina Neves Lusada, is ses maande swanger. Die vlieënier is Peterson Piheiro. Dit lyk na ’n grou dag. Toe Nayla die kamera na buite draai, is daar net ’n grys kombers van mis wat sporadies deur die helikopter se rotorlemme geklief word.

Af en toe glimlag Rosemere skaam. Skielik frons sy en Silvano knyp sy oë styf toe. Hy sê herhaaldelik: “Genade, Here.” Die klank van die helikopter se enjin verander. Maar dan stabiliseer alles weer – net vir 'n paar oomblikke . . .

’n Noodsirene begin loei, die helikopter skud erg, angsbevange gille word gehoor en dit lyk asof die vlieënier die stuurkontrole tref.

Die kamera tol. Toe dit tot stilstand kom, is dit uit fokus. ’n Stilte volg. Dan begin die voëls weer lustig sing.

Rosemere se droomvlug het sowat agt minute geduur.

Intussen wag Udirley en hul 300 gaste op die aankoms van sy bruid, onbewus van die tragedie wat kwalik 2 km daarvandaan afgespeel het.

Carlos Eduardo Batista, wat die bruilof help reël het, het aan die Brasiliaanse nuusdiens Globo gesê die helikopterrit was Rosemere se droom.

Hy het eers onraad vermoed toe die helikopter nie op die afgesproke tyd op ’n nabygeleë sokkerveld land nie. Carlos het gehoor van ’n vliegongeluk, maar het nie besef dit was die helikopter waarin Rosemere en nog drie gesterf het nie.

Die troue sou in Mei 2016 plaasgevind het, maar die video het nou eers opgeduik. Polisie ondersoek die moontlikheid dat die helikopter ’n boom kon getref het weens mis en reën wat die vlieënier se sig kon belemmer het.

Verkorte video

Amptelike video

Bronne: metro.co.uk, foxnews.com, nypost.com