President Jacob Zuma sal Vrydagaand moet uithaal om by te hou by die sexy danspassies van die Idols-deelnemer Graeme Watkins. Graeme gaan optree by ‘n geselligheid waar die president die eregas is.

“Ek kan nie wag nie, dis so opwindend! Ek gaan hom na die verhoog toe roep terwyl ons optree. Ek wil hom vra om sy Zuma-dans vir ons te doen,” vertel Graeme, wie se debuut-CD saam met sy groep, die Graeme Watkins Project (GWP), pas verskyn het.

Die CD het ‘n week gelede verskyn en Graeme sê die terugvoer is baie positief. “Om die waarheid te sê, ons vlieg!”

“Die album is ‘n mengsel van rock, akoestiese, indie, electro en grunge musiek. Maar dis anders as enige ander album. Die musiek is skoon en uniek,” sê hy.

Ná Idols het Graeme saamgespan met drie gevestigde Suid-Afrikaanse kunstenaars om die GWP te stig. Die groep bestaan nou uit Graeme wat sing, die kitaarspelers Ryno Zeelie (Danny K, We Will Rock You, Rent) en Rudo Pieterse (Karen Zoid) op bas en Matthew Marinus (Zebra & Giraffe, Fever Tree, Skouspel) op die tromme.

“Baie van die ander Idols-deelnemers het hulle toegespits op die kontemporêre volwasse pop-mark. Ek vind nie fout daarmee nie, dis ‘n veilige opsie en ek het baie respek vir die werk wat hulle gedoen het. Maar ek wou iets anders doen,” sê hy.

En iets anders is presies wat hulle met die nuwe CD doen.

“Al die snitte vloei in mekaar in met feitlik geen onderbrekings tussen die liedjies nie. Wat ons wou bereik, is om die gehoor te laat voel hulle luister na ‘n herhinnering. Dis waarom die album se naam ‘Corridors of the Mind’ is. Dit is ‘n wandeling deur die onderbewussyn, gegeur met ons eie GWP-styl,” sê Graeme.

Die GWP is beïnvloed deur groepe soos The Springbok Nude Girls, BOO!. The Killers en Depeche Mode.

“Ons maak nou klaar met konserte in Kaapstad en dan gaan ons Durban, Bloemfontein en Johannesburg toe. En dan terug Kaap toe,” sê Graeme.

“Dis rof, maar ek is mal daaroor. Ek leef my droom.”

Sy Idols-deelname twee jaar gelede is ietwat oorskadu deur die omstredenheid toe Sasha Lee Davids en Jason Hartman die eerste plek moes deel weens probleme met die stem-proses. En boonop moes Graeme deur die laaste rondtes van die kompetisie van pynpille leef toe sy verstandtande pynlik gesny het. Dokters het hom in ‘n stadium aangeraai om die kompetisie te los, maar  hy het letterlik vasgebyt.

En hy was nog nooit spyt nie. “Idols het vir my gewys waar my krag en swakhede is. Terselfdertyd het dit vir my gewys waartoe ek in staat is en hoe hard ek moet werk om sukses te behaal,” sê hy.

Sy album en sy flink musiek-loopbaan is egter nie die enigste nuutjies in Graeme se lewe nie. Laat verlede jaar is hy getroud met sy meisie van die afgelope agt jaar, Kim Coppen.

En terwyl ander kunstenaars met selfone, Facebook en Skype met hulle geliefdes moet kontak hou terwyl hulle toer, het Graeme en Kim ‘n beter oplossing gevind. Sy doen sy besprekings en reis saam met hom oral waar hy gaan.