DIS die dag dat die maltrap-finalis van verlede jaar se Idols vrou vat, en jy moenie ’n tradisionele troue met versierde kerkbanke en orrelklanke verwag nie.

Al versierings by Graeme Watkins en Kim Coppen se troue is wit metaalharte wat hang aan ’n reuse doringboom waaronder ’n tydelike kansel staangemaak is.

Dis nou afgesien van die helderkleurige voëls wat hier diep in die Hluhluwe-wildernis ronddartel waar Graeme, deesdae akteur in die e.tv-sepie Rhythm City, op ’n snikhete dag in die Phinda-wildreservaat op sy bruid wag.

Dis wilde wêreld dié. Leeus het die vorige aand by die onthaaltent kom inloer en veldwagters hou nou ’n wakende oog oor die bruidspaar en hul gaste en sorg dat alle ongediertes op ’n veilige afstand bly.

Ondanks die hitte lyk Graeme (28) komkommerkoel in ’n kraakwit hemp, roomkleurige langbroek en bypassende onderbaadjie.

Sy gemoed skiet vol toe sy donkerkopbruid uit ’n viertrekvoertuig klim. Kim (26) lyk lieflik in ’n moulose  ivoorkleurige rok versier met Swarovskikristalle.

Ná ’n agt jaar lange verhouding beloof hulle vandag hier in die bos ewige trou aan mekaar.

Dan sing lede van die plaaslike Nibela-stam hulle toe en ululeer feestelik. Hulle beskou Kim as een van hul eie mense, want sy het so te sê hier in die reservaat grootgeword.

En dan word die paartjie tot man en vrou verklaar, en die toejuiging weerklink hier deur die bos...

Sien meer foto’s en lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 9 Desember 2010.