Die aap is uit die mou. Die voormalige Proteas-kaptein Graeme Smith se geliefde, Romy Lanfranchi, verwag ’n seun. Graeme het Romy onlangs met ’n ooievaarstee bederf en dis toe dat sy op Instagram bekendmaak hul eersteling, wat vroeg volgende jaar gebore word, is ’n seun.

#babyshowerlove @stansfield1 ???

A photo posted by Graeme smith (@graemesmith49) on

Romy, ’n prokureur van Kaapstad, het reeds twee jong seuns by haar oorlede man, Michel Lanfranchi. Graeme het ook ’n seun en dogter uit sy huwelik met die Ierse sangeres Morgan Deane.

Die paartjie span gereeld saam met hul kroos uit. En dit lyk of hul spruite ook nie kan wag vir hul boetie se koms nie. Graeme het onlangs ’n oulike foto op Instagram gedeel van hom en Romy se kleingoed wat met haar swanger magie speel.

Morning chats with bump ??

A photo posted by Graeme smith (@graemesmith49) on

Die paartjie, wat sedert die begin van die jaar uitgaan, is deur gemeenskaplike vriende aan mekaar voorgestel. Hulle het vroeër vanjaar hul eerste onderhoud as paartjie aan Huisgenoot toegestaan.

Romy het toe vertel hoe uitgeboul sy was toe sy Graeme ontmoet, veral omdat hy so plat op die aarde is. “Hy is ’n standvastige mens. Ons het dieselfde waardes en belangstellings,” het Romy vertel. “Ek is ’n baie privaat mens en beslis nie gewoond aan die kollig nie. Dit is nogal angswekkend.”

Romy deel gereeld foto’s van haar en Graeme se kinders wat saam uitspan. Sy en haar eksman, Michel, was agt jaar getroud toe die sakeman in Augustus 2013 weens breinbloeding oorlede is. Hy was net 38.

Graeme en Morgan is sedert einde Desember 2014 uitmekaar. Hy vermy meestal die kollig nadat hul huwelik in duie gestort het.

“Ek en Romy geniet die tyd saam en ek is baie gelukkig,” het Graeme vroeër gesê. En kyk ’n mens so na sy kiekies in die sosiale media het hy beslis die skoot hoog deur.