’n Nuwe jaar, ’n nuwe blyplek vir Morgan Deane!

Die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith se eks het Donderdag in die eerste inskrywing op haar blog, The Green Girl’s Guide to Divorce, vertel sy maak reg om die huis in Kaapstad vaarwel te roep waarin sy, Graeme, en hul twee kinders, Cadence en Carter, gedurende hul huwelik gebly het.

Sy het aangebly toe die huwelik uitmekaarval. Hul skeisaak is nog nie afgehandel nie.

Apparently tonight I'm going to be your waitress ??

A photo posted by Morgan Deane (@morgandeane) on

“Ek is gelukkig genoeg om in ’n pragtige huis te bly. Dis net wit binne: wit mure, wit meubels en wit vloere. Dis vol lig en het baie groot vensters. In die wêreld se oë is dit ’n regte wenner se huis, maar dit het my tronk geraak,” skryf die Ierse popsangeres op haar blog.

“Die mure is sement met ’n gebroke hart en blink gemaak met trane. Die dak het die woedende argumente weggesteek, en die spookagtige beelde van ’n paartjie wat ‘net nie meer kon nie’. Ek onthou die dae toe ek op my knieë sou val om te praat met God, wat ek toe nie meer seker was bestaan eens nie. Ek het Hom gesmeek om my te help verstaan hoekom alles gebeur het, of ten minste vir my te wys hoe ek dit moet hanteer,” skryf Morgan.

Sy het darem weer geleer om lief te raak vir die huis, vertel sy verder. Sy het vrede gemaak met die huis. “Ek is nog hier, maar gaan binnekort weg. Dis tyd.”

Sy het die blog The Green Girl’s Guide to Divorce genoem nie omdat sy Iers is nie, maar omdat sy so ’n groentjie was toe dit kom by haar egskeiding. Sy beplan om in Maart ’n boek met dieselfde titel uit te reik.

In ’n video op haar blog gee sy ook ander vroue raad oor hoe hulle hul egskeiding kan oorleef. “Daar was dae dat ek gedink het ek gaan nie daardeur kom nie,” bieg sy in die video.

“Dis die moeilikste ding wat ek nog in my lewe gedoen het. Maar ek is so bly ek is nou anderkant uit en dat ek kon vasbyt vir my en my kinders. Ja, ek het foute langs die pad gemaak. Ek het baie foute gemaak. Maar ek dink die rede hoekom ek hierdeur gegaan het, is om die boodskap aan ander mense oor te dra wat nou hiermee begin. Dit was opvoedkundig, dit was swaar en pynlik, maar ek is steeds hier.”

Kyk die video hier:

Sy het ook op Instagram mense bedank wat haar blog ondersteun het.

Thank you ?

A video posted by Morgan Deane (@morgandeane) on

Morgan het onlangs die nuusopskrifte gehaal nadat sy twee maande gelede ’n paar ure in aanhouding moes deurbring omdat sy haar visadokumente sedert September 2015 nie hernieu het nie. Dié saak duur nog voort.

Morgan en Graeme is in 2011 getroud. Hul huwelik het aan die begin van 2015 verbrokkel. Graeme het onlangs vir die derde keer pa geword. Hy en sy liefie, die Kaapse prokureur Romy Lanfranchi, se seun, Sebastien, is verlede maand gebore. Romy het ook twee jong seuns uit ’n vorige huwelik.

BRONNE: THEGREENGIRLSGUIDE.CO.ZA, THESUN.IE, NEWS24.COM